17/12/2025
Good Company Matriekgroep neem Afskeid
By ons jaarlikse prysuitdeling het die matrikulante van die Good Company-program hul vyfjaar-reis afgesluit. Op haar b***t het Eulynne Skippers namens die matrieks van 2025 ’n roerende afskeidsboodskap gelewer, ’n boodskap vol dankbaarheid, geloof en die besef dat drome nooit te groot is nie.
Eulynne se woorde het die hart van die program vasgevang: die gevoel van eenheid, familie en die geleenthede wat met ope arms aangegryp is.
Hieronder deel ons haar volledige afskeidstoespraak, ’n inspirasie vir elke jongmens wat glo dat drome haalbaar is:
“Wie sou kon d**k dat 'n reis van vyf jaar binne 'n oomblik se tyd verby sou wees. Matrieks, ons staan tans aan die einde van 'n era, maar tog aan die begin van 'n nuwe hoofstuk.
'n Hartlike goeie naand aan al ons ouers, ons donateurs, die Rotariërs, ons gassprekers, ons GC leerders, maar 'n spesiale groete aan 2025 se matrikulante. Ek is Eulynne Skippers en dit is 'n groot eer en voorreg om vir u te woord te staan.
Gister toe ons by Radio KC gaan praat het, het Avril, die radio-omroeper, gevra: “Wat gaan jy die meeste mis van die GC-program? Wat gaan jy saamvat?” En toe sê ek: Die gevoel van eenheid. Die gevoel van familie. Good Company was vir ons regtig die sambreel waaronder ons plaaskinders, wat daagliks blootgestel is aan die negatiewe kant van die lewe, kon skuil.
’n Wyse man het gesê: Jy kan eers besef wat jou droom is as jy dit ‘n werklikheid sien. Ons is soms so vasgevang in ons eie realiteit, dat ons sukkel om buite die boks te d**k, maar dit was hier by Good Company waar ek besef het dat enige droom nie te groot of onrealisties is nie.
Dis met ’n knop in die keel wat ek hier voor staan om die afskeidstoespraak namens die matrieks van 2025 te doen. Ai, oom Heini, waar gaan ek weer sulke lekker macaroni kry? Ek d**k ons is nog nie gereed om totsiens te sê nie, maar wat ek wel totsiens voor kan sê, is daardie rowwe Outeniekwa-berge wat ons moes sta. My bene was skoon stukkend!
Graad 8 tot en met graad 11, julle is nou die volgende leiers, die volgende verteenwoordigers van watter uitstekende saad hier geplant word. So vat elke geleentheid aan, moenie huiwer nie, want dis hier waar ons saam leer, en indien ons val, mekaar as ’n span, as ’n familie kan oplig.
Aan my mede-matrieks, ek wil julle bemoedig met die versie in Spreuke 3:6 - “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak.” Alhoewel ons nou uitgestuur is na ’n wêreld vol onbekendhede, moet ons steeds God die middelpunt van als maak. Ons kan niks vermag tensy ons nie ons Skepper as ons helper het nie.
Ek wil dankie sê aan ons ouers wat bankvas agter ons deur die moeilike jaar gestaan het. Ek wil dankie sê aan een elke Good Company-lid wat ons die mooiste herinneringe gegee het om deel te wees van so ’n hegte familie. Maar die belangrikste, oom Heini, baie baie dankie dat ons kon deel uitmaak. En ek weet hier onder ons is sommiges wat graag wil terugkom en terugploeg, soos wat Jaybrey en Glemorene en soveel ander al gedoen het.
So ek wil julle uitdaag: Gaan uit en wees goeie geselskap. Dis mos immers wat Good Company is.
Ons sê nie totsiens nie, ons sê: Tot ons weer groet!"
Mag voorspoed en guns vir Eulynne vergesel.