10/06/2026
STORIE VAN HOOP: By Kindersorg Groot Brakrivier ontmoet maatskaplike werkers gereeld kinders en gesinne wat deur moeilike en traumatiese omstandighede gaan. Om die privaatheid en waardigheid van kinders en hul families te beskerm, is hierdie verhaal gebaseer op algemene ervarings en weerspieël dit nie die besonderhede van enige spesifieke kind of gesin nie.
Wanneer daar bewerings of vermoedens van seksuele mishandeling van 'n kind is, is maatskaplike werkers volgens die Kinderwet en die wetgewing wat kinders teen seksuele misdrywe beskerm, verplig om op te tree. Die veiligheid en beste belang van die kind is altyd die belangrikste oorweging en alle nodige stappe word geneem om die kind te beskerm en die saak na die toepaslike rolspelers te verwys.
Dit is belangrik dat gemeenskappe bewus is dat seksuele misdrywe ten kinders nie 'n sperdatum het nie. Selfs al het die voorval baie jare gelede plaasgevind, kan dit steeds by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangemeld word. Die Family Violence, Child Protection and Sexual Offences (FCS)-eenheid hanteer hierdie sake en werk saam met ander professionele persone om kinders te ondersteun. Wanneer 'n kind nie sy of haar ervarings maklik kan verwoord nie, kan die kind na 'n forensiese maatskaplike werker verwys word wat opgelei is om op 'n sensitiewe en kindervriendelike wyse met kinders te werk.
Wanneer 'n kind aan seksuele mishandeling blootgestel word, raak dit nie net die kind nie, maar die hele gesin. Baie ouers en versorgers weet nie altyd hoe om die trauma te hanteer nie en ervaar uitdagings om aan hul ouerskapsverantwoordelikhede en die emosionele behoeftes van hul kinders te voldoen.
Die maatskaplike werkers van Kindersorg Groot Brakrivier streef daarna om dienste aan die hele gesin te lewer. Behalwe ondersteuning aan die kind, word ouers en versorgers ook gehelp deur middel van ouerleiding en ander ontwikkelingsprogramme. Hierdie programme het ten doel om gesinne met die nodige vaardighede toe te rus, verhoudinge te versterk en 'n veiliger en meer ondersteunende tuisomgewing te bevorder.
Deur volgehoue ondersteuning en samewerking met gesinne, skole, die polisiediens en ander diensverskaffers, word daar gewerk om kinders te beveilig en gesinne te versterk. In gevalle waar kind/ers uit die sorg van ouer vewyder word, word daar steeds herenigingsdienste aan biologiese ouers gelewer. Die organisasie het reeds gesien hoe gesinne deur hierdie proses groei en herstel, en hoe kinders weer veiligheid, stabiliteit en 'n gevoel van behoort kan ervaar.
Kindersorg Groot Brakrivier kan dus met dankbaarheid deel dat daar reeds suksesverhale van hierdie aard is waar kinders beveilig is, gesinne die nodige ondersteuning ontvang het en positiewe verandering oor tyd plaasgevind het. Hierdie verhaal is 'n algemene weergawe van die tipe uitkomste wat moontlik is wanneer kinders, ouers en professionele rolspelers saamwerk.