VLV Vredendal - Sirkel Namakwaland

VLV Vredendal - Sirkel Namakwaland Die VLV bemagtig vroue tot persoonlike groei en vooruitgang deur diensbaar te wees aan hulle gemeenskap.

Rosyne, ‘n natuurlike peuselhappie met soveel gesondheidsvoordele en definitief iets wat amper elke vrou wat bak en brou...
26/06/2026

Rosyne, ‘n natuurlike peuselhappie met soveel gesondheidsvoordele en definitief iets wat amper elke vrou wat bak en brou in haar huis aanhou. Op Donderdag 18 Junie 2026 kuier Pierré van Heerden van Red Sun Raisins by die dames van VLV Vredendal – Sirkel Namakwaland om hulle meer te leer oor hierdie uitstekende bron van natuurlike energie, vitamiene en minerale. Die dames van Landbou en Tuinbou het die program aangebied. Daar word wêreldwyd tussen 1,2 en 1,3 miljoen ton rosyne per jaar geproduseer. Dit is ‘n goeie bedryf om in te wees aangesien aanbod en aanvraag mekaar basies uitbalanseer. Brittanje gebruik per kapita die meeste rosyntjies per kop. Die Noordelike halfrond produseer ongeveer 80% van die wêreld se rosyne. Die Golden variëteit is skaars en gesog en maak 10% uit van die 80%. Dit is baie uitdagend om te produseer, die druif se suikergehalte moet nie meer as 20 grade balling wees nie en dit moet in die skaduwee droog raak. Iran was die land wat die meeste rosyntjies geproduseer het in 2025. Amerika was altyd die grooste produsent van Thompson rosyne, maar a.g.v. hoë arbeidskostes is meeste wingerde vervang met amandelbome. Indië en China is tans in die voorlyn met produksie. Die produksie van rosyne is baie winsgewend. Suid Afrika werk met ‘n uitvoerproduk en alle rosyntjies word wêreldwyd teen dollar prys verkoop. Rosyne is ‘n voedselproduk en die produsent word as sulks geoudit op dieselfde basis as die van tafeldruiwe. Die gradering van die produk is keurgraad, standaard graad en industriële graad. Die “sell by date “ begin wanneer die puntjie van die rosyn afgekap word waar die stingeltjie aan die korrel vassit. Rosyne kan vir agt tot nege maande vandat dit weg is by die plaas by die verwerkingsaanleg staan vir beroking ens. voordat dit verpak word. Golden elite en Thompson bruin rosyne is algemeen bekend in ons area. Dit word gemaak van wit kultivars. Die korrels verbruin tydens die drogingsproses, die kleur hang alles af van die suikergehalte van die druiwe. Korente word, in die hele Suid Afrika, net in die Olifantrivier area geproduseer. Dis ‘n wispelturige, onvoorspelbare kultivar. Turkye is ons grootste kompetisie wat korente betref. Jumbo rosyne word gesondroog en tafeldruif korrels wat nie geskik is vir uitvoer nie word hiervoor gebruik. Medium rosyne het die grootste geldwaarde aangesien daar baie meer in gebak gebruik word. Die Flame kultivar is die gewildste vir die maak van rosyne aangesien dit maklik is om te produseer. Die eerste rosyn verpakkingsaanleg in die Weskaap word eersdaags opgerig in Vredendal. Die dames is baie opgewonde oor hierdie vooruitsig aangesien die publiek vars rosyne direk by die aanleg van Red Sun Raisins sal kan aankoop.

Tussendeur al die inligting en goeie nuus het die gewone sake darem ook aandag gekry. Helene van Zyl open die vergadering op gepaste wyse met ‘n mooi voorlesing en gebed. Ons tak voel geëerd met die spesiale besoek van ons Sirkelpresident, Mev. Joretha de Waal, dit is altyd lekker as sy saamkuier. Hester du Plessis vertel die dames meer van die Rooi-Ivoorboom en die Wilde Olyfboom wat die twee bome van die jaar is asook van die Swart Swerwer wat die voël van die jaar is. Elmarie Fouché laat die dames raai watter voëlgeluide hulle hoor en die wenner wat die meeste voëls kon uitken was Adéle de Vries. Die verjaardagdames vir die maand is Marda Albertyn en Sarlene Coetzee. Pat de Waal was die gelukkige wenner van die woekermandjie. Die dames het groente geskenk aan Vredendal se sopkombuis en dit is met groot dankbaarheid ontvang. Na afloop van die vergadering bedien die dames van Opvoeding en Kultuur die heerlikste lekkernye en tee. Die volgende vergadering sal gehou word op 16 Julie 2026 en sal aangebied word deur Kunste en Handvlyt. Vir meer besonderhede kan die Voorsitter, Elmarie Fouché gekontak word by 082 799 5929.
VLV Vredendal - Sirkel Namakwaland
Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Dis winter, dis koud en die mense wat kos die nodigste het is honger. Die dames van VLV Vredendal – Sirkel Namakwaland h...
18/06/2026

Dis winter, dis koud en die mense wat kos die nodigste het is honger. Die dames van VLV Vredendal – Sirkel Namakwaland het oop hande en mooi harte. Na afloop van die vergadering gehou op 18 Junie 2026 oorhandig die tak sakke vol groente, geskenk deur lede, aan die sopkombuis te Vredendal Noord. Audrey van der Merwe en Hendrik Stoltz het dit in ontvangs geneem. Die groentesakke is aangekoop te Checkin Vredendal en aangesien die groente geskenk is vir ‘n goeie doel het die eienaar van die winkel brode uit eie sak geskenk om saam te gee. Die trane het geloop van dankbaarheid. Vanaand sal minder mense honger gaan slaap. Van tuin tot tafel stop nie net by ons eie huise en tafels nie. Mag ons altyd met deernis kyk en gee aan andere terwyl ons self mildelik geseën word.
VLV Vredendal - Sirkel Namakwaland
Vroue-Landbouvereniging van Kaapland
Checkin Vredendal

Ontmoet Elmarie Fouche Voorsitter VLV Vredendal - Sirkel NamakwalandSaamroeper: LeefstylAs VLV in jou bloed is dan is jy...
14/06/2026

Ontmoet Elmarie Fouche
Voorsitter VLV Vredendal - Sirkel Namakwaland
Saamroeper: Leefstyl

As VLV in jou bloed is dan is jy beslis in die regte posisie as Voorsitter van jou tak. Elmarie Fouché is gebore in Vredendal hospitaal en het skoolgegaan in die buurdorp, Lutzville, waar sy en haar ouer suster ook hulle grootwordjare deurgebring het. Hulle ouers is reeds oorlede, maar hulle het soveel mooi en goed aan hulle kinders oorgedra, dinge wat geen geld kan koop nie. Na skool studeer sy Voedsel en kleding tegnologie aan die Tygerberg kollege te Bellville. Sy sou nie veel wou verander aan haar verlede nie, miskien net moontlik in ‘n ander rigting wou studeer. In 1990 neem sy haar stoel in by Claassen Stone ouditeure in Vredendal en werk daar vir die volgende agt jaar. Sy is getroud met Pierré wie nie net ‘n boer is nie, maar ook ‘n oesmasjienparte besigheid bedryf. Hulle seun, Wiaan wat woonagtig is te Durbanville, is hulle grootste trots. ‘n Entrepeneur van formaat en sy ouers se regterhand. Op 20 Julie 2000 sluit sy formeel aan by die Vredendal tak van die VLV. Die afgelope 26 jaar staan sy haar skoene deur en deur vol nes haar ma haar lewe lank gedoen het as lid van die VLV. Elmarie is ‘n tuin-mens. Dis haar stokperdjie, haar trots en ook die plek waar sy weer haarself vind as die lewe se gejaag te vinnig en te veel raak. Haar gunsteling seisoen is winter, wanneer dit reën en sy terugverlang na haar grootwordjare op die plaas met groen gesaaide lande, die veld wat groei en die mooi blomme van Namakwaland wat haar omring. Sy gaan stap graag met haar twee honde, Stella en Ruby, op haar en Pierré se plaas terwyl Sokkies die kat rustig in die son vir hulle sit en wag. Hulle is die plaaskinders en word sommer lekker bederf. Elmarie is natuurlik ‘n voorslag in die kombuis in ag genome haar ma se invloed en haar kennis wat sy tydens haar studentejare opgedoen het. Sy is baie lief vir ‘n buffet ontbyt, ‘n ordentlike gekookte ete of ‘n lekker stuk koek of tert, maar haar trooskos is ‘n eenvoudige koppie koffie of tee saam met ‘n geroosterde konfyt en kaasbroodjie wat sy op haar stoep by die huis kan geniet terwyl sy die mooi van haar tuin inneem. ‘n Bootvaart op die diep blou see, blou is ook haar gunsteling kleur, is bo-aan haar “voor ek die emmer skop” lysie, mens mag en moet altyd droom. Haar dae is vol en bedrywig en begin soggens douvoordag, gelukkig is sy ‘n oggendmens en dit is ‘n groot voordeel. Een van haar grootste vrese is dat sy ‘n ongeneeslike siekte sal opdoen en daarom beskou sy dit alleen as genade dat sy elke oggend gesond kan opstaan met lewenslus om haar dagtake te kan verrig. Hierdie vrygewige, gemaklike, omgee persoon is die Elmarie wat aan almal bekend is. Sy sal vir seker eendag onthou word vir haar onbaatsugtige diens aan die VLV en haar oop hand vir haar medemens, elkeen wat oor haar pad kom en haar nodig het. Onder haar hand het die Vredendal tak reeds aansienlik gegroei en die lede van die tak is dit eens dat dit werklik ‘n genotvolle ervaring is om elke vergadering by te woon met ‘n mens soos
Elmarie aan die stuur.
VLV Vredendal - Sirkel Namakwaland
Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

VLV Vredendal - Sirkel Namakwaland nooi graag alle lede en belangstellendes uit na ons opkomende vergadering op 18 Junie...
08/06/2026

VLV Vredendal - Sirkel Namakwaland nooi graag alle lede en belangstellendes uit na ons opkomende vergadering op 18 Junie 2026 om 09:30 in die Kleinsaal, Vredendal Gemeente. Vir meer inligting kan die voorsitter Elmarie Fouche gekontak word by 082 799 5929.
VLV Vredendal - Sirkel Namakwaland
Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Baie geluk met jou verjaardag Marda. Mag hierdie dag ekstra spesiaal wees en mag elke dag van jou nuwe lewensjaar oorloo...
07/06/2026

Baie geluk met jou verjaardag Marda. Mag hierdie dag ekstra spesiaal wees en mag elke dag van jou nuwe lewensjaar oorloop van liefde, vreugde, voorspoed en seën. Liefde van al jou VLV vriendinne. 🩷🎂🩷

Ontmoet die span van VLV Vredendal Sirkel Namakwaland. Vir die volgende paar weke gaan ons 'n bietjie kuier saam met die...
04/06/2026

Ontmoet die span van VLV Vredendal Sirkel Namakwaland. Vir die volgende paar weke gaan ons 'n bietjie kuier saam met die dames wat die voortou neem. Hou gerus hierdie spasie dop.
VLV Vredendal - Sirkel Namakwaland
Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Baie geluk met jou verjaardag Anna-marie. Mag hierdie dag ekstra spesiaal wees en mag elke dag van jou nuwe lewensjaar o...
31/05/2026

Baie geluk met jou verjaardag Anna-marie. Mag hierdie dag ekstra spesiaal wees en mag elke dag van jou nuwe lewensjaar oorloop van liefde, vreugde, voorspoed en seën. Liefde van al jou VLV vriendinne. 🩷🎂🩷

Geen mens sou kon voorspel dat daar ‘n werklike ramp sou afspeel te midde van ‘n vergadering oor rampbestuur nie. Die Ol...
25/05/2026

Geen mens sou kon voorspel dat daar ‘n werklike ramp sou afspeel te midde van ‘n vergadering oor rampbestuur nie. Die Olifantsrivier het sy walle op Woensdag 13 Mei 2026 oorstroom, baie meer as in 1925 wat dit op sy hoogste nog bekend was. Die brug wat in 1958 gebou was en wat die skakel is tussen Vredendal Noord en Suid het binne enkele ure onbegaanbaar geraak en alles tot stilstand gebring, so ook die ekonomie. Winkels en skole is inderhaas gesluit. Talle plase was afgesny van die dorp. ‘n Week later, op 21 Mei, kom die dames van VLV Vredendal tak bymekaar om te luister wat hulle te doen staan in ‘n rampsituasie. Die vergadering was aangebied deur Openbare sake. Hierdie was geensins vooraf beplan dat dit saamspeel met ‘n werklike ramp nie, maar was wel blote toeval. Die vergadering is op toepaslike wyse geopen deur Adéle De Vries waarna die gasspreker, Mnr. Chris White, die dames toegespreek het. Hy moes op baie kort kennisgewing instaan vir ‘n kollega wat elders besig was en ons was baie dankbaar dat hy bereid was om van sy kosbare tyd aan ons af te staan te midde van ‘n baie bedrywige skedule in die noodtoestand. Mnr. White het die dames ingelig rondom die herstel van die brug in Vredendal asook die brug te Klawer aangesien beide hierdie bruê toegang tot die dorp verleen maar beskadig is tydens die vloed en nie geskik is vir gebruik nie. Die brug in Vredendal is intussen oopgestel vir voetganger verkeer en daar is reeds begin met herstelwerk. Hy verduidelik ook die prosedure tydens ‘n ramp, hoe om dit te voorkom, voor te berei daarvoor en hoe dit bestuur word. Openbare waarskuwingstelsels is baie belangrik vir kommunikasie en die media (Facebook, Whatsapp groepe, radiostasies ens.) word baie nuttig ingespan om almal wat deur ‘n spesifieke ramp geraak word op hoogte te hou. Ontruimingsprogramme moet in plek wees, selfs by jou eie huis. Wanneer ‘n ramp plaasvind word die rampbestuursentrum geaktiveer. Die gesamentlike operasiesentrum koördineer die nooddienste waaronder ambulansdienste, brandweer, polisie, verkeersafdeling en gesondheidsdienste. Daar word gehelp met ontruiming, verskaf van nood skuiling en daar word d.m.v. deurlopende verslae gekommunikeer met die publiek. Nasorg behels die herstel van paaie, water en elektrisiteit, hulp verlening aan slagoffers, en die grootste werk, die herbou van beskadigde infrastruktuur. Uitdagings is daar baie. Die gemeenskap moet betrokke wees en risikos aanmeld. Dit is baie belangrik om voorkomend te wees. Stel ‘n noodplan op vir jou eie huishouding. Maak voorsiening vir bv. sonkrag, ‘n klein watertenk en brandblusser. Neem deel aan veiligheidsprogramme bv. buurtwagte om ingelig te bly. Die hoofdoel van die munisipale rampbestuur is om lewens te red, skade te beperk aan infrastruktuur van die munisipaliteit asook die publiek en om gemeenskappe so vinnig moontlik te help na ‘n ramp.

Amanda Von Czapiewski laat die dames bietjie kopkrap en self ‘n “ramp” bestuur. Daar is twintig persone van verskillende beroepe, ouderdomme en ook kinders op ‘n boot wat besig is om te sink. Daar is slegs plek vir agt persone op die enigste reddingsboot. Daar is ‘n onbewoonde eiland, die enigste plek waarheen hulle kan gaan. Jy, die kaptein, moet besluit wie is die sewe persone wat jy saam met jou gaan neem. Die doel met die hele oefening was dat die persone wat gekies word ‘n rol speel in die oorlewing van die persone tot hulle gevind word. Die dames het in groepe gedeel vir die taak en dit was beslis nie ‘n maklike keuse-opdrag nie. Dit laat ‘n mens nad**k oor die skoene waarin daar gestaan word wanneer daar ‘n regte ramp plaasvind. Die besluite is glad nie eenvoudig nie en dis maklik om aan wal te staan, te oordeel, te vinnig te praat. Dit laat mens d**k... diep d**k.

Rita Eitner doen ‘n komiese voorlesing “Wyn in die woestyn” uit Laat die stories loop deur Dirk van Schalkwyk wat die dames laat skaterlag.

Die verjaardag dames vir die maand is Annetjie Vosloo, Mariet van der Merwe en Anna-marie de Vries.

Daar is geen gebrek aan die kreatiwiteit van ons lede nie. Vyf lede het ingeskryf vir die kompetisie om ‘n klein rangskikking te skep met takkies, blare, sade, vere en stokkies. Die gebruik van blomme was tot die minimum beperk en dit was nie toelaatbaar om enige iets te koop nie. Die tema was “Van tuin tot tafel – Herfs”. Die wenners was: 1ste plek – Sarlene Coetzee, 2de plek – Trudie Kruger en 3de plek – Pat de Waal. Die rangskikkings was elkeen uniek en innoverend. Die lede het self vir die wenners gestem.

Na afloop kuier die dames ontspanne saam oor ‘n koppie tee en heerlike eetgoed bedien deur die dames van Kunste en Handvlyt. Die volgende vergadering sal plaasvind op 18 Junie 2026 en sal aangebied word deur Landbou en Tuinbou. Vir meer inligting kan die Voorsitter, Elmarie Fouché gekontak word by 082 799 5929.

VLV Vredendal - Sirkel Namakwaland
Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

VLV Vredendal – Sirkel Namakwaland nooi graag alle lede en belangstellendes uit na ons opkomende vergadering op 21 Mei 2...
08/05/2026

VLV Vredendal – Sirkel Namakwaland nooi graag alle lede en belangstellendes uit na ons opkomende vergadering op 21 Mei 2026, aangebied deur die dames van Openbare Sake, om 09:30 in die Kleinsaal, Vredendal gemeente. Kom geniet 'n heerlike kuieroggend saam met ons. Vir meer inligting kan die voorsitter, Elmarie Fouche, gekontak word by 082 799 5929.
VLV Vredendal - Sirkel Namakwaland
Vroue-Landbouvereniging van Kaapland

Baie geluk met jou verjaardag Mariet. Mag hierdie dag ekstra spesiaal wees en mag elke dag van jou nuwe lewensjaar oorlo...
08/05/2026

Baie geluk met jou verjaardag Mariet. Mag hierdie dag ekstra spesiaal wees en mag elke dag van jou nuwe lewensjaar oorloop van liefde, vreugde, voorspoed en seën. Liefde van al jou VLV vriendinne. 🩷🎂🩷

Address

NG Kerksaal
Vredendal
8160

Telephone

+27827995929

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when VLV Vredendal - Sirkel Namakwaland posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Share