The Co-Lab Auction is sinergie in praktyk op plaaslike vlak – ‘n inisiatief wat poog om binne ‘n sikliese netwerk van neem en gee ‘n positiewe bydra te maak op ‘n verskeidenheid behoeftige terreine, van die Boland tot Kaapstad. Binne hierdie siklus is elke bydra soos ’n element wat in die versmelting met ander elemente ’n heel ander stof met verrassende nuwe moontlikhede teweeg kan bring. The Co-L
ab Auction is in 2015 op die been gebring en behels die insameling van fondse deur ‘n reeks veilings. Gedurende ’n feesaand van musiek, verversings en gesprekke rondom die transformasie van ons gemeenskappe, word ‘n verskeidenheid kosbaarhede opgeveil. Dié kosbaarhede word ingesamel uit die eie unieke vaardigheide van ‘n netwerk van individue en besighede, waarna die fondse wat ingesamel word versprei word na ‘n verskeidenheid projekte wat elk op eie unieke manier die gemeenskappe waarin hul betrokke is dien. In Maart het die eerste wending in hierdie siklus plaasgevind met ‘n veiling wat by die Protea Hotel Tegnopark plaasgevind het. Die fondse wat gedurende hierdie aand ingesamel is ondersteun twee projekte – Winelands Dogs en Bergskool. Winelands Dogs, ‘n inisiatief deur wynmaker en hondeliefhebber Ian Naudé, ondersteun, onder andere, twee organisasies, elk wat die volhoubare gesondheid en versorging van diere as visie het. EnviroVet, gestig in 1998, is ‘n satelliet dierekliniek wat in behoeftige gemeenskappe die getal rondloper honde, asook die mishandeling en verwaarlosing van diere beperk deur sterilasie projekte, gratis basiese behandeling, opleiding in dierewelsyn en die bewusmaking en ondersteuning van diere-eienaars in die gemeenskappe. Verder ondersteun Winelands Dogs ook vir Border Collie Rescue, ‘n projek wat Border Collies sonder huis of sorg inneem, assesseer en onder spesiale toestande rehabiliteer met die doel om vir dié wonderhonde huise te vind. Vir meer info oor Wineland Dogs, sien gerus hul Facebook blad by:
www.facebook.com/winelanddogs
Bergskool is ’n projek wat in sy derde bestaansjaar is as deel van die InVia Gemeente, ‘n kontemplatiewe gemeenskap gebaseer in Kaapstad en Stellenbosch, onder leiding van Dr Theo Geyser. Dié projek het ten doel om 12/13 jariges uit gemeenskappe wat geteister word deur armoede, geweld en bende-aktiwiteit deur die ontwikkelingsfase van puberteit na adolessensie te begelei. Hierdie is ‘n uiters belangrike fase in die ontwikkeling van gesonde individue, ’n noodsaaklikheid vir gesonde gemeenskappe en ’n gesonde samelewing. Belangrike prosesse vir hierdie oorgangsfase sluit in die stel van grense, skep van identiteit, die neem van verantwoordelikheid en die bevrediging van ’n sin van avontuur. Deur middel van ’n kamp en opvolg-mentorskap vir ’n tydperk van ’n jaar word dié amper-tieners deur die verskeie prosesse begelei deur ‘n span vrywillige fasiliteerders van die gemeente. Vir meer info oor InVia volg gerus hul Facebook blad by:
www.facebook.com/inviagemeente