Solidariteit Helpende Hand - Wes-Kaap Streek

Solidariteit Helpende Hand - Wes-Kaap Streek Gaan gerus na weskaaphand.co.za vir meer inligting. Geen inligting van enige persoon wat hulp versoek, sal aan die publiek bekend gemaak word nie.

SOLIDARITEIT HELPENDE HAND: HUISREËLS VIR FACEBOOK-BLAD
Welkom by Solidariteit Helpende Hand se amptelike Facebook-blad. Helpende Hand is ʼn niewinsgewende organisasie wat fokus op die opheffing van gemeenskappe deur maatskaplik-gebaseerde gemeenskapsontwikkeling vir die volgende kwesbare groepe:
• Kinders
• Gesinne
• Persone met gestremdhede
• Ouer persone
Dít realiseer deur ’n verskeidenheid van projekte en programme wat in die onderskeie streke van stapel gestuur word. Ons waardes is in lyn met Facebook se gemeenskapswaardes Jy is welkom om jou opinie te lug, maar indien jy kru taal, rassistiese uitlatings of enige onvanpaste kommentaar lewer wat teen ons en Facebook se gemeenskapswaardes is, sal jy van die blad verban word. Solidariteit Helpende Hand se gemeenskapswaardes is soos volg:
1) Privaatheid en persoonlike veiligheid: ons ag die privaatheid van ons verbruikers, veral van begunstigdes, hoog. Dit sluit die identiteit en besonderhede oor alle aansoeke/versoeke via digitale media in. Die veiligheid van ons verbruikers is van kardinale belang. Geen boeliegedrag, teistering, intimidering of pespos sal geduld word nie. Beskerm jouself. Wees versigtig oor watter persoonlike inligting jy aanlyn deel. Gevolglik word geen hulpversoeke op kommentaar in plasings of via ʼn derdepartyboodskap op ons blad toegelaat nie.

2) Verantwoordelike en etiese optrede: daar mag onder geen omstandighede enige wanvoorstelling van enige instansie of persoon gemaak word nie. Alle kommentaar moet volgens die visie en missie van Helpende Hand wees.

3) Eer verskille en toon respek vir ander se menings: toon begrip vir ander se demografie, kultuur, geslag, ras, kleur, geloof, godsdiens, etnisiteit, seksuele oriëntasie, geslagsidentiteit, nasionale oorsprong, burgerskap, ongeskiktheid of huwelikstatus.

4) Kommentaar/inhoud oor die volgende onderwerpe is streng verbode:
- Haatspraak teenoor enige instansie of individu
- Negatiewe kommentaar teenoor ander werknemers of teenoor Helpende Hand
- Aanhitsing tot geweld
- Rassisme
- Seksisme
- Laster
- Kru taalgebruik
- Ander aanstootlike inhoud
- Pornografiese materiaal of kommentaar
- Strooipos of bemarking van jou produk of diens

5) Beskerm ons kinders: Geen foto’s van kinders mag deur derdepartye in Solidariteit Helpende Hand se kommentaarafdeling geplaas, of via ’n persoonlike boodskap aan ons versprei word nie. Solidariteit Helpende Hand vervul nié die volgende funksies nie:
Statutêre maatskaplike dienste:
Helpende Hand beskik nie oor die mandaat om enige vorm van statutêre maatskaplike diens te kan lewer nie, naamlik die beveiliging van kinders en enige ander optrede kragtens die Kinderwet (No. 38 van 2005). Die Afdeling Maatskaplikewerkdienste is egter bevoeg om raad en leiding oor die verskillende statutêre prosesse kragtens die bogenoemde wet te verskaf en persone na geregistreerde kinderbeskermingsorganisasies te verwys. Finansiële bystand:
Helpende Hand is ʼn niewinsgewende organisasie en kan dus nie finansiële bystand bied nie. Dit sluit onder andere die volgende uitgawes in:
 Verbands- of huuronkostes
 Elektrisiteitsrekeninge
 Herstelkostes aan wonings
 Trek- of reisonkostes
 Finansiële ondersteuning in terme van mediese aangeleenthede
 Begrafnisdienste
 Borgskappe
Behuising:
Helpende Hand beskik nie oor enige behuising nie. Die maatskaplike werker kan egter, waar moontlik, kontakbesonderhede van skuilings en ander hulpbronne voorsien, maar dit is die persoon se eie verantwoordelikheid om die betrokke hulpbronne te kontak.

⭐𝗪𝗼𝗿𝗰𝗲𝘀𝘁𝗲𝗿-𝘁𝗮𝗸 𝘀𝗲 𝗗𝗮𝗴𝗯𝗲𝘀𝘁𝘂𝘂𝗿 𝘃𝗶𝗿 𝟮𝟬𝟮𝟳 𝗮𝗮𝗻𝗴𝗲𝘄𝘆𝘀 ⭐Baie geluk aan die Dagbestuur van Worcester-tak vir 2027:Voorsitter: Ang...
13/10/2026

⭐𝗪𝗼𝗿𝗰𝗲𝘀𝘁𝗲𝗿-𝘁𝗮𝗸 𝘀𝗲 𝗗𝗮𝗴𝗯𝗲𝘀𝘁𝘂𝘂𝗿 𝘃𝗶𝗿 𝟮𝟬𝟮𝟳 𝗮𝗮𝗻𝗴𝗲𝘄𝘆𝘀 ⭐

Baie geluk aan die Dagbestuur van Worcester-tak vir 2027:
Voorsitter: Angelique Butler
Ondervoorsitter: Ruan Butler
Sekretaresse: Elizca Oppel

Baie dankie vir jul leiding vanjaar en ons sien uit om saam met julle te bou aan die Worcester-gemeenskap in 2027. Mag jul werk geseënd wees.

Stel jou voor… ’n hele waentjie propvol kuiergenot wat sommer jou volgende kuier onvergeetlik kan maak!Wat is in die Kui...
13/10/2026

Stel jou voor… ’n hele waentjie propvol kuiergenot wat sommer jou volgende kuier onvergeetlik kan maak!

Wat is in die Kuierkoets?

15 bottels wyn, wh***ey, sjampanje & likeur
’n Heerlike piekniekmandjie
’n Minikoelsak
Speserye & olywe
Servette
3 pakke skyfies

Die beste deel? ’n Kaartjie kos slegs R50!
Deur ’n kaartjie te koop, ondersteun jy Helpende Hand Helderberg se projekte in die gemeenskap. Jy kan dus nie net ’n fantastiese prys wen nie, jy help ook om ’n verskil te maak!

Kliek op die skakel, koop jou kaartjie en staan ’n kans om die Kuierkoets te wen! https://onskoopplek.co.za/product/koop-n-kaartjie-en-wen-n-kuierkoets/

Op 16 Oktober 2026 hoor ons wie die gelukkige wenner is!

R50 kan jou volgende groot kuier laat begin!
Koop vandag jou kaartjie en kuier saam met ons vir ’n goeie doel!

Stel jou voor… ’n hele waentjie propvol kuiergenot wat sommer jou volgende kuier onvergeetlik kan maak!

Kerrie en kuier vir George studiefondsOp Vrydag, 9 Oktober 2026 is daar behoorlik gekuier, gelag en geëet by Helpende Ha...
13/10/2026

Kerrie en kuier vir George studiefonds
Op Vrydag, 9 Oktober 2026 is daar behoorlik gekuier, gelag en geëet by Helpende
Hand se Kuier en Kerrie funksie ten bate van George-tak se Studiefonds.

Die 150
kaartjies het soos soetkoek verkoop.
Die doel van hierdie kuier was om die gemeenskap bewus te maak van die
Helpende Hand studiefonds asook om fondse vir die George Studiefonds in te
samel.

Die seremoniemeester, Jaco Koekemoer, het hom uitstekend van sy taak
gekwyt en gesorg dat almal gedeel het in die aand se vermaak. Onder luide gejuig
het hy pryse uitgedeel, bieërs aangemoedig om die veiling te ondersteun en die
fokus geplaas op die waarde van vrywilligers wat deur hande te vat, ‘n verskil
maak.

Die voorsitster van die George-tak, Tracey Weideman het die gehoor meer vertel
van die studiefonds. ‘n Video is gespeel wat ‘n oorsig gegee het van wat die
taklede gedurende die jaar gedoen het.

Deur die loop van die aand was daar
gelukkige trekkings en danksy die groothartigheid van die gemeenskap van
George was daar baie wenners.

‘n Watertandlekker broodtafel met ‘n verskeidenheid lekkernye het die ete
ingelei. Daarna is keurige hoender- en lamskerrie bedien. Ons dank en
waardering aan almal wat hiermee gehelp het. Die ete is afgesluit met koffie,
sjokolade blokkies en koeksisters.

Die Helpende Hand George-tak is dankbaar vir
elke gas se teenwoordigheid asook die borge en donateurs vir hulle oop hand. Dit
was voorwaar ‘n reuse spanpoging – die taklede, sowel as hulle gades het hard
gewerk om hierdie wonderlike, geseënde aand moontlik te maak.

Veels geluk! 🎊Jalinda de Jager, van  Ons Winkel  Wellington, verjaar vandag!  Mag jy 'n geseënde en gelukkige nuwe lewen...
13/10/2026

Veels geluk! 🎊
Jalinda de Jager, van Ons Winkel Wellington, verjaar vandag!
Mag jy 'n geseënde en gelukkige nuwe lewensjaar hê.🎉
Dankie dat jy 'n verskil in Wellington se gemeenskap maak.
Ons waardeer jou - jy moet lekker verjaar!

Ontmoet ons vrywilliger :  Zanele du Toit van Swartland-tak.My betrokkenheid by Helpende Hand het sowat vier jaar gelede...
13/10/2026

Ontmoet ons vrywilliger : Zanele du Toit van Swartland-tak.

My betrokkenheid by Helpende Hand het sowat vier jaar gelede begin toe ek betrokke geraak het by die opening van Ons Winkel Malmesbury. 🤗 Dit was my eerste kennismaking met Helpende Hand en van daar af het my betrokkenheid net gegroei. Ek het later die besluit geneem om die OW Malmesbury te verkoop, maar ek het verkies om steeds by die Helpende Hand Swartland tak, betrokke te bly. Ek het deur die jare verskillende rolle in die tak vervul – van voorsitter vir ’n jaar, tot onder-voorsitter en tans is ek die tak se sekretaresse.❤️ Ek raak graag betrokke by al die projekte wat die tak aanpak.

Wat my van Helpende Hand aangetrek het, is die praktiese en volhoubare verskil wat ons in mense en ons gemeenskap kan maak. Ek hou daarvan om betrokke te wees, mense te help en saam met ander mense iets positiefs aan te pak. Ek geniet dit die meeste om saam met die mense, elke geleentheid te gebruik om saam iets te doen. Dit is lekker om te sien hoe ’n groep mense met ’n gemeenskaplike hart en doel iets groter as hulself kan bereik.

Vir my gaan dit nie altyd oor groot dinge nie. Soms is dit net om jou tyd, energie of vaardighede te gee waar dit nodig is. En as jy aan die einde van die dag weet jy het op ’n klein manier iemand gehelp of ’n verskil gemaak, is dit vir my die moeite werd.

Baie dankie Zanele vir jou bydrae, ons waardeer jou.

12/10/2026

Kom ons gaan loer in by Solidariteit Helpende Hand - Wes-Kaap Streek se Streekkantoor in Somerset-Wes...

12/10/2026
'N OGGEND VAN INSPIRASIE & HOOPVandag het ongeveer 140 vroue in die Swartland by Het Vlok Casteel bymekaargekom vir ’n h...
10/10/2026

'N OGGEND VAN INSPIRASIE & HOOP

Vandag het ongeveer 140 vroue in die Swartland by Het Vlok Casteel bymekaargekom vir ’n heerlike oggend van saamwees. Natuurlik ook om deel te wees van iets groter as hulself.

Die oggend, gereël deur Helpende Hand Swartland tak, het alles gegaan oor hoop, omgee en die krag wat ons het om ander se lewens te verander.

Alisha de Lange Streekbestuurder van Helpende Hand in die Wes-Kaap, het die dames meer vertel van die ontstaan van die organisasie tot waar Helpende Hand vandag in die Swartland 'n verskil maak.

Die bekende Lindie Strydom het die gehoor geïnspireer met haar boodskap oor die belangrikheid daarvan dat die goeie die slegte oorwin. Sy het ons herinner dat elkeen van ons, selfs binne net drie sekondes, ’n keuse kan maak om die wêreld ’n beter plek te maak. Soms begin ’n groot verandering met ’n klein daad van goedhartigheid!

Haar man, die bekende Johann Strydom het die veiling met groot entoesiasme hanteer en gehelp om ’n mooi bedrag geld in te samel.

Hierdie oggend was egter oor veel meer as net ’n lekker kuier. Die doel was om fondse in te samel sodat een of twee studente uit die Swartland die geleentheid kan kry om verder te gaan studeer. Wanneer ons in ’n jongmens se toekoms belê, belê ons ook in die toekoms van ons gemeenskap.

BAIE DANKIE aan elke borg wat hierdie besondere dag moontlik gemaak het. Ons sou die dag nie sonder julle kon aanpak nie. Dankie aan ons toegewyde Helpende Hand Swartland taklede wat hart en siel in hierdie funksie ingesit het. Ook aan elkeen wat ’n kaartjie gekoop het om die oggend saam met ons geniet het en gehelp het om ’n verskil te maak.

Volgende jaar maak ons weer so!

Baie geluk met julle 12e verjaarsdag Ons Plek Helpende Hand Strand Baie dankie vir die groot verskil wat julle elke dag ...
10/10/2026

Baie geluk met julle 12e verjaarsdag Ons Plek Helpende Hand Strand Baie dankie vir die groot verskil wat julle elke dag in 'n klomp kinders se lewens maak!

💙 Ruim harte, spesiale oomblikke en Krag tot Hoop in die Suid-Kaap! ⛳🎣Op 9 Oktober het Solidariteit Helpende Hand Suid-K...
10/10/2026

💙 Ruim harte, spesiale oomblikke en Krag tot Hoop in die Suid-Kaap! ⛳🎣

Op 9 Oktober het Solidariteit Helpende Hand Suid-Kaap die besondere voorreg gehad om ’n stalletjie by Oubaai te beman tydens die HelpJag Eksklusiewe Legendes se Golfdag. ’n Geleentheid vol lekker kuier, besondere oomblikke en, bowenal, mense met ruim harte wat bereid is om ’n verskil te maak!

Ons harte loop oor van dankbaarheid teenoor die gholfers wat met soveel entoesiasme en vrygewigheid ons streekfonds ondersteun het. ❤️ Hulle verstaan dat befondsing veel meer as net geld beteken — dit skep geleenthede, bring hoop en maak dit moontlik om projekte te loods wat ’n tasbare verskil in mense se lewens in die Suid-Kaap maak.

’n Spesiale woord van dank aan Go Fish, ’n plaaslike professionele visserman van Mosselbaai, wat ’n besonderse prys vir ons streekfonds geskenk het: ’n ses uur lange visvangervaring! 🎣 Hierdie ruim gebaar dra by tot die sukses van ons fondsinsamelingspoging en wys weereens wat moontlik is wanneer mense en ondernemings hande vat vir ’n goeie saak.

Aan elke organiseerder, borg, ondersteuner en gholfer wat deel was van hierdie dag: DANKIE dat julle saam met ons in Krag tot Hoop glo!

Elke bydrae, elke oop hart en elke uitgestrekte hand help ons om volhoubare projekte te vestig en hoop prakties uit te leef in ons gemeenskappe.

Want wanneer ’n gemeenskap saamstaan, gebeur daar besonderse dinge. 💙

Saam maak ons ’n verskil. Saam bou ons hoop. Saam gee ons Krag tot Hoop!

Address

Somerset West

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Solidariteit Helpende Hand - Wes-Kaap Streek posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Shortcuts

Share