16/10/2026
HOEKOM IS DAAR VANDAG SO BAIE KINDERS MET ADHD
https://www.facebook.com/share/1C5RFcvt1U/
HOEKOM IS DAAR VANDAG SO BAIE KINDERS MET ADHD?
Deur Albie Jordaan
Dit lyk asof daar vandag baie meer kinders met ADHD is as in die verlede. Maar beteken dit werklik dat ADHD meer algemeen geword het, of verstaan ons dit vandag net beter?
ADHD is nie iets nuuts nie. Kinders met ADHD was nog altyd deel van ons samelewing, maar in die verlede is hulle dikwels as stout, lui, ongehoorsaam of ongedissiplineerd beskou. Vandag verstaan ons baie beter waarom hierdie kinders met sekere dinge sukkel.
Daar is egter nog iets belangriks wat ons moet verstaan. Die moderne lewe stel baie hoë eise aan kinders se uitvoerende funksies. Hulle moet kan konsentreer, organiseer, vooruit beplan, instruksies onthou, hulle emosies reguleer en hulle gedrag beheer.
Dit is juis hierdie funksies waarmee kinders met ADHD dikwels sukkel. Daarom kan die eise van die moderne lewe hulle probleme baie meer sigbaar maak.
Ons herken ADHD ook vandag beter by meisies, tieners en volwassenes wat in die verlede dikwels nie gediagnoseer is nie.
'n Belangrike insig
Dit is nie noodwendig dat daar vandag baie meer mense met ADHD is nie. Ons verstaan en herken ADHD beter, terwyl die moderne lewe dikwels groter eise stel aan die vermoëns waarmee mense met ADHD reeds sukkel.
Wanneer ons as ouers dit begin verstaan, kan ons anders na ons kinders se gedrag kyk. Ons besef dat dit wat soos ongehoorsaamheid of luiheid lyk, soms die gevolg kan wees van uitvoerende funksies wat nog nie voldoende ontwikkel het nie.
👉🏼Verstaan ADHD, begelei jou kind beter:
https://www.facebook.com/share/p/1FtTryp1bu/
👉🏼Word deel van Albie Jordaan se whatsapp groep, waar hy inligting oor ADHD deel:
https://www.facebook.com/share/p/19HKogrota/