24/05/2026
Pontius Pilatus se Vrou
“Moenie die waarskuwing van God ignoreer nie”
Matthéüs 27:19
“Moet tog niks te doen hê met daardie regverdige Man nie, want ek het vandag in ’n droom baie gely om Sy ontwil.”
Daar is mense in die Bybel wat net een keer genoem word…
maar hulle laat ’n groot boodskap agter.
Pontius Pilatus se vrou praat net een sin in die Bybel.
Net een boodskap.
Maar daardie een waarskuwing het deur die eeue bly eggo.
Terwyl almal geskree het: “Kruisig Hom!”
Was daar een vrou wat gesê het
“Moenie aan hierdie Regverdige Man raak nie.”
God het selfs in die middel van chaos nog probeer waarsku.
God waarsku voor oordeel
Pilatus se vrou kry ’n droom.
Nie sommer net ’n droom nie
’n ontstellende droom
“Ek het baie gely oor Hom.”
God waarsku altyd voordat dinge breek.
Voor die vloed het Hy gewaarsku.
Voor S***m het Hy gewaarsku.
Voor Petrus geval het, het Jesus hom gewaarsku.
God praat
deur Sy Woord
deur die Heilige Gees
deur mense
deur omstandighede
selfs deur onrus in jou hart
Maar die vraag is
Luister ons?
Pilatus het die waarheid geken… maar mense gevrees
Pilatus het geweet Jesus is onskuldig.
Sy vrou het hom gewaarsku.
Sy eie gewete het hom gepla.
Maar die skare was harder as die waarheid.
Hoeveel mense doen vandag dieselfde?
Hulle weet wat reg is
Hulle voel God praat
Maar hulle is bang vir mense se opinies
Pilatus wou almal gelukkig hou
maar verloor uiteindelik vrede.
Wanneer jy mense meer vrees as God, maak jy gevaarlike besluite.
Jy kan dalk
wegstap
stilbly
kompromie maak
voorgee dit pla jou nie
Maar waarheid bly waarheid.
God hou ons verantwoordelik vir wat ons met Jesus doen.
God gebruik soms onverwagse mense
Dis opvallend: God gebruik nie ’n priester hier nie.
Nie ’n Fariseër nie.
Nie een van die dissipels nie.
Hy gebruik ’n heidense vrou.
Want God kyk na harte.
Moet nooit d**k God kan nie deur iemand praat nie:
’n kind
’n vreemdeling
’n ongelowige
iemand wat jy miskyk
God kan enige stem gebruik om jou wakker te maak.
Moenie die waarskuwing van God ignoreer nie.
Wanneer God praat
reageer vinnig
gehoorsaam onmiddellik
moenie uitstel nie
Pilatus het die waarskuwing gehoor…
maar niks daarmee gedoen nie.
En dit het sy naam vir altyd aan die kruisiging verbind.
Daar was chaos.
Skare het geskree.
Politiek was besig.
Mense het druk geplaas.
Maar in die middel daarvan, het God nog gepraat.
En dalk praat Hy vandag ook met jou.
Moenie jou hart verhard nie.
“Die gevaarlikste ding is nie wanneer God stilbly nie…
maar wanneer Hy praat en ons ignoreer dit.”
-Blom-