03/09/2025
Dissipline: Die Ruggraat van Geloof en Vryheid
Geen organisasie, besigheid of selfs ’n familie kan bly voortbestaan sonder gesonde dissipline nie. Waar dissipline ontbreek, volg chaos, verdeeldheid en uiteindelik ineenstorting. Dit is ’n vaste beginsel van die lewe: sonder orde en gehoorsaamheid kan geen gemeenskap groei of oorleef nie. En tog sien ons hoe hierdie waarheid in ons tyd al hoe meer verwerp word.
Dissipline volgens die Woord van God
Hebreërs 12:11 – “En alle tugtiging lyk op die oomblik nie asof dit vreugde bring nie, maar droefheid; tog gee dit later ’n vredige vrug van geregtigheid aan die wat daardeur geoefen is.”
Die Bybel leer ons duidelik dat dissipline nie ’n vyand is nie, maar ’n seën. Dissipline vorm karakter, skep stabiliteit en bring orde wat die Here se wil eer.
Selfs Jesus Christus, die Seun van God, het dissipline geken. Hy was gehoorsaam tot die dood aan die kruis (Filippense 2:8). As die Hoof van die kerk só ’n pad van gehoorsaamheid geloop het, hoe kan ons as mense, gesinne of volke d**k ons kan sonder dissipline voortgaan?
Dissipline in gesin en gemeenskap
’n Gesin sonder dissipline val uitmekaar. ’n Besigheid sonder dissipline gaan bankrot. ’n Gemeenskap sonder dissipline verval in misdaad en selfvernietiging. Dieselfde geld vir ’n volk. Dissipline is die band wat elke vlak van die samelewing bymekaar hou – van die hoogste leier tot die nederigste lid.
Spreuke 13:24 – “Hy wat sy seun terughou van tug, haat hom; maar hy wat hom liefhet, soek hom vroeg met tugtiging.”
Ware dissipline beteken egter nie hardheid sonder genade nie. Dit is liefde in praktyk – rigting, orde en die handhawing van reëls wat beskerm en opbou. Dissipline is die bewys dat ons ernstig is oor dit wat ons glo.
’n Volk se pad na vryheid
As Boere-Afrikanervolk staan ons op ’n kruispad. Ons praat oor vryheid, oor selfbeskikking, oor ’n nuwe toekoms. Maar as ons dit wil hê, moet ons verstaan: vryheid sonder dissipline is net ’n illusie. ’n Volk wat nie orde kan handhaaf nie, is nie gereed vir vryheid nie.
Josua 24:15 – “Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.”
Ons moet dus begin by onsself, in ons huise, in ons organisasies, in ons kerke. Dissipline beteken dat die Woord van God die hoogste gesag bly, en dat elkeen – van leiers tot gewone lidmate – daarvolgens leef. Geloof in Jesus Christus gee ons die krag, dissipline gee ons die struktuur.
Slot
1 Korintiërs 14:40 – “Laat alles gepas en ordelik geskied.”
Dissipline, geanker in die Woord van God, is die ruggraat van die lewe. Sonder dit is geloof leeg woorde en vryheid ’n droom wat nooit werklikheid word nie. Maar met dissipline en geloof saam kan ’n volk nie net oorleef nie, maar ook vry en sterk voortbestaan.
Willie Cloete