13/06/2026
Vandag iets spesiaals, 'n storie geskryf deur ons eie sosiale werker Elmarie - Tuinhekkiestories :
Ek kry die briefie verlede week onder my kantoordeur.
In die brief staan geskryf:
"More tannie, ek moet tannie vandag dringend sien.
Van Bennie"
Ek weet Bennie sal nie sommer vir my 'n brief skryf as dit nie dringend is nie.
So, 3de periode roep ek hom uit die klas.
Bennie het skaars op die blou kussing gaan sit toe vra hy, "tannie ek hoor tannie het Bybels in die krat onder tannie se tafel, Lienkie het my vertel, want sy het haar Bybel vir my gewys in die klas"
"Ja ek het,"antwoord ek, "wil jy graag 'n Bybel hê?"
En Bennie wat antwoord, "asb tannie, net my ouma in ons huis het 'n Bybel en ek wil graag my eie bybel hê."
Ek maak die swart krat oop- juffrou het 'n paar ouerige bybels vir my onlangs gegee.
Tweedehandse Bybels met geel blaaie en die verse onderstreep in verskillende kleure.
Ek sien tussen al die Bybels dat daar net een Afrikaanse Bybel onder in die krat lê.
Die Bybel het 'n sagte blou buiteblad, glad nie meer in 'n goeie toestand nie.
"Bennie," sê ek vir hom, "dis die enigste Afrikaanse Bybel wat ek het, kan ek vanmiddag by Hospice vir jou 'n ander Bybel koop?"
En Bennie wat antwoord, "nee tannie, ek wil graag die Bybel hê, wys net vir my waar ek moet begin lees?"
Na ek vir hom bietjie leiding gee, is hy uit my kantoor, Bybel onder die arm.
Maandag- weer 'n briefie onder my deur- "Tannie, ek moet tannie dringend sien, groete Bennie."
Ek loop klas toe en nadat juffrou hom uitroep kom hy uit die klas gestap met die ligte blou Bybel onder sy arm.
Bennie, skaars in my kantoor, begin vertel wat hy die naweek in sy blou Bybel gelees het.
Met 'n klein liniaaltjie lees hy hardop reël vir reël.
En ek kyk in sy oë.
Iets tref my- soos 'n helder lig.
Dis 'n ander Bennie, 'n nuwe Bennie wat voor my sit.
Bennie- wat gereeld lelike name genoem word.
Bennie- wat gereeld in die moeilikheid is oor sy gedrag in die klas.
Bennie- wat demerits kry oor huiswerk wat nie gedoen is nie.
Vir die eerste keer in 'n lang tyd, hoor ek 'n opgewondenheid, ek hoor hom lag.
En op daardie oomblik, besef ek, die Here werk op wonderbaarlike maniere.
Op tye wat ons dit die minste verwag.
Net wanneer ons wil opgee!
Na ure se berading, trane afvee, moed inpraat, kom Hy in een oomblik en Hy raak vir Bennie aan.
Behalwe dat Hy Bennie aanraak, gee Hy my moed-om aan te hou- liefde uit te deel en trane af te vee.
Net een kind op 'n slag!
Dis waaroor dit gaan.
Ek moet maar so gou moontlik nog Bybels gaan koop.
Vir die volgende briefie onder my deur.
En miskien, is dit weer dringend!