30/08/2026
Niemand verstaan beter as 'n boer dat 'n oes nie oornag gebeur nie.
Elke oes begin met 'n saadjie.
Met geloof.
Met harde werk.
Met geduld.
En met die besluit om vandag te saai vir môre se oes.
By Solidariteit Helpende Hand glo ons kinders is ook saad.
By ons Ons Plek-kleuterskole en naskoolsentrums plant ons elke dag saad van hoop, waardes, opvoeding en liefde in die harte van meer as 400 kinders. Ons gee hulle nie net 'n plek om te leer nie – ons gee hulle die geleentheid om te groei, te droom en bo moeilike omstandighede uit te styg.
Maar soos enige oes, kan hierdie werk nie alleen gedoen word nie.
Daarom nooi ons jou uit om deel te word van ons "Ons Het Jou Broodnodig"-projek.
Julle voed reeds ons land.
Julle sit elke dag brood op Suid-Afrika se tafel.
Help ons nou om kinders ook by die tafel te laat aansit.
Elke bydrae, groot of klein, help om vir 'n kind 'n veilige plek te skep waar hy of sy kwaliteit Afrikaanse vroeë kinderontwikkeling, liefde, ondersteuning en hoop ontvang.
Ons glo boere verstaan rentmeesterskap.
Julle weet wat dit beteken om vandag te saai sodat die volgende geslag môre kan oes.
Vandag vra ons dat julle saam met ons in kinders sal belê.
Want elke kind verdien die geleentheid om sy of haar Godgegewe potensiaal te ontwikkel.
Wanneer jy deel word van hierdie projek, stuur jy simbolies 'n brood na 'n kind toe.
Want brood beteken soveel meer as kos.
Brood beteken huis.
Brood beteken omgee.
Brood beteken familie.
Brood beteken hoop.
Kom plant saam met ons.
Kom bou saam met ons.
Kom help ons om vir elke kind 'n gelyke kans op 'n beter toekoms te gee.
Want wanneer ons saam saai, oes 'n hele gemeenskap.
Baie dankie vir alles wat julle reeds vir Suid-Afrika beteken.
Ons het jou broodnodig.
Ons Plek is húlle toekoms – en jou geleentheid om ‘n “brood” huis toe te stuur!
Word 'n donateur vir Ons Plek en beskerm 'n kind se toekoms: https://helpendehand.co.za/donasie-aan-ons-plekke-en-sentrums/donasie/