ToekomsVenster / FutureWindow

Call Directions Website Contact the organization

ToekomsVenster / FutureWindow Dis geen geheim dat die tyd waarin ons leef toenemend hoe eise gaan stel nie. Die reis na en anderka Die toekoms is in God se hande, so glo ons.

Tog roep Hy ons om medewerkers te wees in die koms van sy Koninkryk. Ons bid, “soos in die hemel, so ook op die aarde”. (Matt.6:10)

Daarmee is die werksaamhede waarmee die Kerk en elke individuele gelowige moet besig wees helder en duidelik uitgespel. Iets van die toekomstige volmaaktheid - geen trane, pyn, honger, eensaamheid en vertwyfeling moet nou reeds deur ons dienswerk sigbaar gemaak word. Ons doen dit veral waar mense nood van allerlei aard belewe. Kinders is daarvan ʼn integrale deel. Covid-19 het ons intens bewus gemaak van die kortstondigheid van die lewe. Ons moet die tyd uitkoop, terwyl dit nog dag is, skouer aan die wiel sit. (Joh.9)

Deel daarvan is om die Naam van God te respekteer en te eer. (Exod.20:7) Hy is die Vader van ons Here Jesus Christus. Die Heilige Gees rus ons toe vir ons taak op aarde. (Die Jesus Projek wat geboorte geskenk het aan Toekomsvenster het daarin diep spore getrap en selfs in Hollywood gedraai). Toekomsvenster nooi jou uit om deel te word van hierdie inisiatief. Jou gebede, betrokkenheid, ondersteuning en liefde word opreg waardeer.

15/10/2026

Donderdag

Het ons respek verloor?

1 Petrus 2:17 (AFR83)

“Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.”

Tong in die kies wonder ek of ons probleem dalk met respek te doen het. Kom die woord respek in die Bybel voor? Kom ek kyk gou.

Die antwoord is interessant. Die woord respek kom nie in elke Afrikaanse Bybelvertaling ewe dikwels voor nie. In die 1983-vertaling lees ons egter in 1 Petrus 2:17: “Julle moet alle mense respekteer.” In ouer vertalings kom woorde soos eerbied, agting en ontsag dikwels voor. Die woord mag dalk nie oral gebruik word nie, maar die saak is beslis belangrik.

Trouens, ek is daarvan oortuig dat geen waardegedrewe gemeenskap sonder respek kan klaarkom nie. Respek vir mekaar se menswaardigheid, vir ons verskille en vir dit wat ons met mekaar deel, is onontbeerlik. Dalk is dit juis hierdie respek wat ons besig is om te verloor.

Respek en liefdeloosheid, eiegeregtigheid, onverbloemde eiebelang, vooroordeel en vrees gaan moeilik saam. Ons mag hewig van mekaar verskil. In ’n diverse samelewing is uiteenlopende gedagtes, opinies en oortuigings immers deel van die alledaagse lewe. Ons is nie robotte nie. Ons kan redeneer, sake teen mekaar opweeg, besluite neem en daarvolgens leef. Om te verskil, is nie op sigself verkeerd nie. Eenheid, versoening en respek kan steeds gedy wanneer ons ernstig van mekaar verskil.

Vir my lê die begronding van respek in Jesus. Kyk maar hoe Hy met mense omgaan. Hy sien mense raak wat ander miskyk. Hy verneder nie mense bloot om Homself te verhef nie. Hy praat die waarheid, soms skerp, maar Hy maak nie van minagting ’n deug nie. Hy bring nie mense se menswaardigheid goedkoop in die gedrang nie. Hy kom sodat mense die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Ek waag dit om te sê dat ek en die Here nie altyd oor alles saamstem nie — ’n uitspraak wat dalk aanmatigend kan klink. Wat ek eintlik bedoel, is dat my begrip beperk is. Ek verstaan nie altyd wat God doen of waarom dinge gebeur soos dit gebeur nie. Tog verdra Hy my vrae en my worsteling. Hy gee my ruimte om te soek, te leer en te groei. Dit beteken nie dat God verkeerd is of dat ek Hom op my eie maatstaf kan beoordeel nie. Dit beteken dat sy geduld met my groter is as my begrip van Hom.

Ek behou daarom die grootste eerbied vir God as die gans Andere, die Skepper van hemel en aarde, die soewereine Here. Hy is nie ons speelmaat nie. My wysheid is beperk voor Hom, en daar is baie wat ek nog nie verstaan nie. Eendag sal ek beter verstaan. Intussen is ek dankbaar dat Hy my nie volgens my gebrekkige insig en onvolmaakte lewe behandel nie, maar my in sy genade ruimte gee om verder te groei.

Het ons dalk iets van ons respek vir mekaar verloor? Respek vir die eiesoortigheid en uniekheid van elke mens, geskep na God se beeld? Het ons respek vir die skepping verloor? Ons omgang met die natuur en die omgewing laat ons soms wonder of ons nog werklik besef dat ons nie die eienaars van alles is nie, maar ook rentmeesters.

Het ons respek vir God verloor? Ons verwaarloos ons verhouding met Hom en maak soms asof ’n vae gevoel van godsdienstigheid genoeg is. Het ons respek vir gesag verloor — en het mense in gesagsposisies soms deur hulle eie optrede daartoe bygedra? Ons kan nie Romeine 13 eenvoudig uit die Bybel skeur nie, maar gesag moet ook verantwoordelik uitgeoefen word.

En wat van ons respek vir kinders, vir vroue en vir die lewe self? Hoe kan ons onsself ’n Christelike samelewing noem wanneer kinders se nood ons koud laat, wanneer vroue mishandel en vermoor word, en wanneer menselewens soms behandel word asof hulle min waarde het? Ons hoef nie ver te soek om te sien hoe geweld en minagting ons samelewing verwond nie.

Ons hoef ook nie almal dieselfde te dink om mekaar met respek te behandel nie. Ons kan standpunt inneem, vrae vra, kritiek uitspreek en selfs heftig verskil sonder om mekaar te verneder, te demoniseer of as vyande af te skryf. Respek beteken nie dat ons alles goedkeur nie. Dit beteken dat ons selfs in ons verskil onthou dat die ander persoon ook ’n mens is.

Hoe kry ons hierdie respek terug? Miskien begin dit wanneer ons besef dat nie een van ons voor God kan staan en daarop aanspraak maak dat ons alles verdien nie. Ons staan almal daar uit genade. Ons kan nie op ons eie goedheid roem nie. Ons het mekaar nodig, en ons het God se genade nodig.

Dalk is dit waar die verandering begin: nie by die eis dat almal rondom my eerste moet verander nie, maar by die vraag of ek bereid is om anders na mense te kyk en hulle met groter respek te behandel.

Here, bring asseblief respek terug in Suid-Afrika. Leer ons om mekaar se menswaardigheid raak te sien, selfs wanneer ons verskil. Help ons om met waarheid én deernis te praat, om met verantwoordelikheid op te tree en om nie die genade te vergeet waaruit ons almal leef nie.

Want uiteindelik staan ons almal voor U met leë hande. Alles, alles is genade.

13/10/2026

Dinsdag

Wat is besig om met ons te gebeur? – Deel 2

Filippense 2:5 (AFR83)

“Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.”

Gister het ons begin stoei met die vraag: Wat is besig om met ons te gebeur? Die agtergrond is die uitgebreide en veelvuldige probleme waarmee ons in Suid-Afrika te kampe het. Oral waar mense saamleef, sal daar uitdagings wees. Ons is immers nie almal dieselfde nie, en ons stem nie oor alles saam nie.

Soms dink ’n mens dat dit dalk sal help as ons net meer mense bymekaarbring wat dieselfde dink en dieselfde dinge nastreef. Dan behoort daar mos minder konflik te wees? Ek wonder egter of die vrede lank sal hou. Dit is nie ’n klomp engele wat saamleef nie, maar mense. En mense bring elkeen sy eie geskiedenis, vooroordele, behoeftes en belange na die tafel. Selfs die Bybel vertel van engele wat nie aan God getrou gebly het nie. Hoeveel te meer moet ons rekening hou met die gebrokenheid van ons menswees?

Die Bybel noem dit sonde. Dit is nie net iets wat ons soms doen nie; dit raak ook ons gesindhede, ons motiewe en die manier waarop ons na ander kyk. Ons dra die geneigdheid tot verdeeldheid, eiebelang en vooroordeel in ons saam. Ons gee dit soms, sonder dat ons dit besef, aan ons kinders en ander mense oor. Ons beste bedoelings ten spyt stel ons mekaar teleur. Ons wil graag die goeie doen, maar slaag nie altyd daarin nie.

Die vraag bly dus staan: Wat is besig om met ons te gebeur? Is ons op ’n goeie plek, of nie? As ons op ’n goeie plek is, moet ons sekerlik voortgaan met dit wat werk. Maar as ons eerlik moet erken dat dinge nie goed gaan nie, sal ons dalk moet vra wat ons moet los, watter nuwe gewoontes ons moet aanleer en watter dinge weer prioriteit in ons lewe moet kry.

Ek wil graag glo dat baie van ons wat hierdie dagstukkies lees of daarna luister, onsself Christene noem. Maar woorde kan mettertyd so bekend raak dat ons vergeet wat hulle eintlik beteken. Daarom is dit dalk goed om vir ’n oomblik stil te staan by die woord Christen.

Jy hoor tog die verwysing na Christus in die woord. Om myself ’n Christen te noem, behoort dus meer te beteken as dat ek kerk toe gaan, die Bybel lees of sekere geloofsoortuigings onderskryf. Dit sê iets oor wie ek probeer volg en watter invloed Hy op my lewe behoort te hê. My woorde, my optrede en die manier waarop ek ander mense behandel, behoort iets van Christus te weerspieël.

As ek en jy onsself Christene noem, het ons in Christus iets belangriks met mekaar in gemeen. Die vraag is egter of dit ook in ons daaglikse lewe sigbaar word. Laat ons Hom dan weer in die middelpunt plaas. Wat leer ons by Hom? Wat staan in sy lewe uit? Wat inspireer en motiveer ons, en watter gesindheid behoort die rigting van ons eie lewe te bepaal?

Ons dink aan sy liefde, sy ontferming, sy nederigheid, sy bereidheid om mense raak te sien wat ander maklik misgekyk het, en sy vermoë om die waarheid te praat sonder om mense se menswaardigheid prys te gee. Ons kan nie sy volmaaktheid uit onsself bereik nie. Maar Hy bly ons rigtingwyser, ons ware Noorde. Ons kyk na Hom om te ontdek hoe ons behoort te leef.

En hier moet ek versigtig wees. Dit is maklik om Christus as maatstaf te gebruik wanneer ek na ander mense kyk, maar baie moeiliker wanneer ek myself aan sy voorbeeld meet. Ons is dikwels gou om ander se foute uit te wys, terwyl ons ons eie verskoon of miskyk. Ons wysvinger is op ander gerig, maar die ander vingers van ons hand wys terug na onsself.

Daar is ’n ou geestelike lied wat my telkens hieraan herinner. Die woorde vra dat ons nie eerste na ons broer, suster, moeder of vader kyk nie, maar na onsself wat die Here se hulp nodig het.

Dalk begin die antwoord op die vraag “Wat is besig om met ons te gebeur?” juis hier. Nie by die vraag wat verkeerd is met almal om my nie, maar by die eerlike ondersoek van my eie hart. Waar dra ek by tot die verdeeldheid waaroor ek so maklik kla? Waar het my eiebelang my blind gemaak vir iemand anders se nood? En waar het ek opgehou om Christus se gesindheid in my verhouding met ander mense te weerspieël?

Dit is nie vrae wat ons moedeloos hoef te maak nie. Dit is vrae wat ’n deur kan oopmaak. Want wanneer ek bereid is om na myself te kyk, begin daar ruimte ontstaan vir verandering. En dalk is dit presies waar ons moet begin.

12/10/2026

Maandag

Wat is besig om met ons te gebeur?

1 Korintiërs 12:26 (AFR83)

“As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”

’n Tydjie gelede het ek in my motor gery terwyl die radio op ’n Christelike radiostasie ingestel was. Ek het so met die een oor geluister na wat gesê word. Skielik het ’n vraag my aandag vasgevang toe die aanbieder vra: “What is happening to us?” Wat is besig om met ons te gebeur?

Sy het verwys na die onstuimige Suid-Afrika waarin ons woon. Ek vermoed dat die vrouemoorde in die Kempton Park-omgewing op daardie stadium sterk in die nuus was. Maar wanneer ’n mens oor ons lieflike land nadink, is dit beslis nie die enigste uitdaging wat jou aandag trek nie. Ek kan ’n lang lys maak van die probleme waarmee ons daagliks gekonfronteer word, en jy sal waarskynlik nog ’n paar daarby kan voeg.

Die vraag is egter nie bloot teoreties nie. Dit is ’n vraag wat ’n mens tot stilstand bring en jou dwing om na te dink. Jy kan tog nie onverskillig jou skouers optrek en daarmee voortgaan asof dit jou nie raak nie. Ek en jy, ons wat hier woon en werk en die toekoms van ons kinders en dié van ander kinders ernstig opneem, moet op een of ander manier met hierdie werklikheid omgaan.

Een manier is om die probleme by ander mense se huishoudings te laat tuiskom. Met huishoudings bedoel ek hier die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap, waarin ons steeds van wit, swart en bruin mense praat om die groter groepe by die naam te noem. Dit is waar dat sommige van ons land se pynlike werklikhede nader aan sekere gemeenskappe se daaglikse lewe lê as aan ander s’n. Maar kan ons daarom eenvoudig wegstap en maak asof dit ons nie raak nie?

Geen mens is ’n eiland nie, lui die bekende gedagte. Ons is met mekaar verweef, op maniere wat ons soms nie eens besef nie. Ons deel ’n geskiedenis wat vanuit verskillende perspektiewe vertel en beleef word, maar wat steeds ons gemeenskaplike geskiedenis bly. Ons deel dieselfde grondgebied: Suid-Afrika. Ons noem dit ons land, ons plek van herkoms en die plek waar ons en ons kinders ’n toekoms moet probeer bou.

Ons deel ook ruimtes met mekaar. Daar is nie ’n werklike manier waarop ons ons heeltemal van mekaar kan afsonder en verwag dat dit wat buite ons eie kring gebeur, ons nooit sal raak nie. Ons deel in die voor- en teenspoed van hierdie land. Wanneer die petrolprys styg, betaal ons almal meer. Wanneer ons aan ’n plaaslike verkiesing deelneem, raak die uitslag elkeen van ons, ongeag waar ons woon of vir wie ons stem.

Selfs ons woonbuurte is nie heeltemal afgesonder van die groter werklikheid nie. Ons kan in mooi, gevestigde woonbuurte woon en steeds gryswater voor ons huise sien verbyvloei. Miskien troos ons onsself met die gedagte dat dit darem erger is verder aan, waar ander mense met nog groter probleme saamleef. Maar maak dit die situasie voor ons eie deur enigsins beter? En wat het geword van ons besorgdheid oor ons naaste?

Nee, in Suid-Afrika is ons op mekaar aangewese, ongeag die kultuur, taal, tradisies en gewoontes wat ons onderskei. Ons hoef nie dieselfde te wees om mekaar se menswaardigheid raak te sien nie. Ons hoef ook nie oor alles saam te stem om te erken dat die lewe van iemand anders saak maak nie.

Iemand het dit eenmaal só gestel: “You aren’t alone in this world; your brothers are here too.” Jy is nie alleen in hierdie wêreld nie; jou medemens is ook hier. Dalk is dit juis iets wat ons maklik vergeet wanneer ons eie probleme, vrese en behoeftes al ons aandag begin opeis.

Maar hoe vorentoe? Hoe bou ons aan ’n samelewing waarin ons nie net vir onsself probeer wen nie, maar ook ruimte maak vir ander om ’n beter lewe te hê? Arnold Mol het in die konteks van die huwelik ’n boek geskryf met die titel Ons wen saam en ons verloor saam. Die gedagte laat my wonder: Is daar werklik sprake van ’n oorwinning wanneer ek wen, maar iemand anders daardeur verloor?

Miskien moet ons vandag ’n bietjie hieroor nadink. Nie om onsself of ander te veroordeel nie, maar om eerlik te vra: Wat is besig om met ons te gebeur wanneer die nood van ander mense al hoe minder aan ons deur klop? En wat sê dit van ons wanneer ons nie meer daardie klop hoor nie?

08/10/2026

Donderdag

Die slaggate van die lewe

Psalm 147:3 (AFR83)
“Hy genees die gebrokenes van hart
en verbind hulle wonde.”

Gate in die pad. Slaggate. Potholes.

Hulle is nie uniek aan Suid-Afrika nie, maar ons weet maar alte goed dat dit hier ’n besondere probleem kan wees. Hoeveel bande is nie al afgeskryf omdat ’n slaggat onverwags voor ’n motor opgeduik en skade veroorsaak het nie?

Niemand ry aspris deur slaggate nie – behalwe dalk wanneer jy op bykans ontoeganklike paaie aan motorsport deelneem en die uithouvermoë van voertuie wil toets.
Padgebruikers doen gewoonlik moeite om slaggate te vermy.

Ek vermoed die meeste van ons kan interessante verhale vertel van slaggate wat ons op pad iewers heen teëgekom het.

Die probleem met ’n slaggat is dat dit, tensy dit betyds en op die regte manier herstel word, gewoonlik net groter en gevaarliker word. ’n Klein probleem word ’n groter probleem. En uiteindelik kan ’n pad feitlik onbegaanbaar word omdat daar nie betyds aandag gegee is nie.

Tussen hakies - die komende plaaslike regeringsverkiesing bied aan burgers ’n geleentheid om oor die toestand van hul paaie en die bestuur van hul gemeenskappe vrae te vra en verantwoordelikheid te neem. Die keuse van plaaslike verteenwoordigers het immers ook te doen met die alledaagse kwaliteit van die omgewing waarin ons leef.
Maar kom ons laat die paaie vir ’n oomblik daar.

Mense beleef ook slaggate.
Ek het myne – en ek is maar alte goed daarmee bekend.
Jy het joune.

Dit is die seer wat nie heel geword het nie.
Die teleurstellings waarmee ons nooit vrede gemaak het nie.
Die vrae waarop ons nie antwoorde gekry het nie.
Die konflikte wat nooit opgelos is nie.
Selfs die gebede wat, so het dit vir ons gevoel, onbeantwoord gebly het.
Die versugting wat jy voor die troon van genade gelê het en waarvan jy gewonder het of God dit ooit gehoor het.

Dit is die seerplekke wat nooit ’n pleister gekry het nie – en daarom nooit behoorlik kon begin genees nie.

En dan kom die padverkeer van die lewe.
Een teleurstelling na die ander.
Een herinnering.
Een opmerking.
Een verlies.
Een konflik.
En die slaggat word groter.

Soms voel dit soos ’n vulkaan wat wil uitbars. Iets moet iewers uitdrukking vind. Jy is immers net ’n mens.
En soms is die uitbarsting verwoestend.
Dit sleur mense saam. Dit laat skade agter. En soos ’n grys wolk van vulkaanas kan die gevolge nog lank oor ’n mens se lewe hang.
Dikwels omdat ons nie betyds aandag gegee het aan die slaggate van ons lewe nie.

Net soos ’n slaggat op ’n pad behoorlik herstel moet word – nie bloot sodat motors nog ’n paar keer daaroor kan ry nie – so moet ons aandag gee aan die slaggate in ons eie lewe.
Moenie wag totdat die slaggat ’n afgrond geword het nie.

Praat daaroor.
Bid daaroor.
Erken dit.
Vergewe waar vergifnis nodig is.
Maak vrede waar dit moontlik is.
En soek hulp wanneer die slaggat al hoe dieper en dringender word.
Jy hoef nie alleen daarmee te werk nie.
Daar is mense wat kan help.
Daar is genade.

En die Heilige Gees wil jou juis daar ontmoet – ook in die plekke waar jy die meeste gebreek en kwesbaar voel.
Die Here genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.

Moenie jou slaggate ignoreer nie.
Gee hulle aandag.

Laat God jou begin herstel.

07/10/2026

Woensdag

Efesiërs 5:15–16 (AFR83)
“Wees dus baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd.”

Die wagkamers van ons bestaan-

“Ek sal eendag …”
“Ek wag vir …”
“Wanneer dit gebeur …”
“Wanneer my skip kom …”
“Ja, wanneer my naam geroep word, sal ek …”
Die wagkamers van ons bestaan.

Daar is inderdaad tye wanneer ’n mens moet wag. Aktiewe wag is wanneer jy proaktief besig is om die wagtyd te benut, juis sodat dit waarop jou hoop gerig is, kan materialiseer. Jy berei jou voor. Jy werk. Jy bid. Jy doen wat jy kan.
Daar is ook passiewe wag, wanneer jy eenvoudig niks kan doen nie. Jou hande is spreekwoordelik afgekap. Jy het geen ander keuse as om vir ’n tyd lank tot stilstand te kom nie.

Maar vandag wil ek iets sê oor die wagkamers wat die lewe by ons laat verbygaan.
Dit begin gewoonlik met: as …
“As dit eers …”
“As dit net wil …”
“As my kinders eers groot is, gaan ons hierdie of daardie doen.”
“As ek eers groot is, sal ek my eie besluite kan neem.”
“As dit net wil reën, kan ons die huis verf.”

Sommige van hierdie wagkamer-uitsprake is nie sonder meriete nie. ’n Mens neem verantwoordelik aan die sorge en uitdagings van die lewe deel. Jy doen nie alles halsoorkop omdat jy haastig is nie. Planmatigheid, geduld en dissipline is deel van volwassenheid.
Maar dit is juis daar waar die gevaar soms skuil.
Ons beplan. Ons skeduleer. Ons stel uit. Ons wag.
En sonder dat ons dit agterkom, gaan die lewe by ons verby.

My professor het eens gesê: Dit is nie óf-óf nie, maar én-én.
Die lewe is ’n én-én-ervaring.
Die een én die ander.
Die wag én die beweging.
Die rus én die arbeid.
Die ontvang én die gee.
Ek is soms die een wat in die wagkamer sit, maar ek is terselfdertyd ook ’n medewerker.

Genade is gratis.
Die res vra meestal toegewyde samewerking van ons.
Selfs die Koninkryk van God kom op wonderlike maniere deur ons gehoorsame medewerking met dit waarmee die Here deur sy Gees in die wêreld besig is.

Baie mense sal getuig dat die tyd hulle ingehaal het – altans, so voel dit.
Maar ek glo ’n mens kan tot op sy sterfbed, solank jy bewus is, nog ’n verskil maak.
Dalk is dit nie iets groot of indrukwekkend nie.
Dalk is dit net ’n telefoontjie.
’n Hand op iemand se skouer.
’n Woord van vergifnis.
’n Gebed.
Selfs ’n bykans onhoorbare prewelgebed dat die genade van God mense wêreldwyd sal bereik, kan heerlik in die ewigheid resoneer.

Waarvoor wag jy?
Waarom wag jy?
As die Here sê: Wag, is dit in orde.
As goeie besluite en wysheid jou daartoe bring om te wag, wag gerus.
Maar as jou wag die karakter van ’n verskoning begin kry – dalk selfs van ongeloof of ongehoorsaamheid – moet ek en jy weer besin.

Dit is interessant hoe ’n mens, veral namate die ouderdom naderkom, soms vir die lewe wil sê:
Wag net ’n bietjie.
Maar die lewe wag nie.
Die sekondes, minute, dae, weke, maande en jare gaan voort.
Die lewe bring nie tyd in wagkamers deur nie.

Dalk het jy lank genoeg gewag.
Dalk het jy die wagkamer se veiligheid en sluimering begin verwar met die lewe self.
Dalk is dit tyd om op te staan.
Om die deur oop te maak.
Om weer die lewe binne te stap.
God wag vir jou.

06/10/2026

Dinsdag

1 Korintiërs 1:18 (AFR83)
“Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.”

Die kruis – waarvan is dit dan ’n simbool?

Die vraag dring hom aan my op namate berigte oor kruise wat in Suid-Afrika en oorsee opgerig word, al hoe meer media-aandag ontvang:
Die kruis – waarvan is dit dan ’n simbool?

Iemand het onlangs gesê: Ons het nie kopiereg op die kruis nie. Dit is ’n oop simbool en bied hom aan vir ’n ryke verskeidenheid betekenismoontlikhede. Maar juis daarom moet ons seker maak dat die betekenis wat ons daaraan heg, Woord adem.

Die kruis is nie bloot ’n versieringsitem nie. Daarvoor is dit net te afskuwelik. Jy kan dit met 32-karaatgoud of sterling silwer probeer mooi maak, maar die kruis bly die kruis.
Dit is ’n stelling. ’n Uitnodiging. ’n Teregwysing.
Die kruis getuig tegelykertyd van genade en oordeel. Dit spreek vry, maar dit kan ook ontmasker. Dit laat jou nie onaangeraak nie.

In die wêreld van die Nuwe Testament was kruisiging ’n afgryslike openbare vorm van teregstelling. Kruise langs paaie en buite stede het die mag van Rome sigbaar gemaak. Die boodskap was hard en ondubbelsinnig: dié wat die orde van die Ryk uitdaag, kan met die volle geweld van daardie mag gekonfronteer word.

En tog gebeur daar iets merkwaardigs.
Die kruis wat bedoel was om te verneder en te vernietig, word in die Christelike geloof juis die plek waar ’n ander Koning geopenbaar word.
God is Koning.
Jesus is Here.
Daar is ’n ander manier van heers.

Die kruis trek nader – of dit stoot weg.
Wie weet dat hy ’n Geneesheer nodig het, dat hy gewond is en dat sy nood dieper lê as wat hy self kan herstel, kan hom na die kruis wend. Daar is daardie dierbare kruis waar my Heiland sy liefde vir my bewys het.
Maar die kruis is ook ’n ongemaklike woord aan die mens wat meen dat hy homself kan red. Dit herinner ons daaraan dat genade nie verdien word nie.

Jy kan die kruis egter nooit aanbied as regverdiging vir geweld, afguns, vooroordeel, vrees of agterdog nie.
Die kruis laat jou nie toe om liefdeloos te wees nie.

As jy ’n standpunt wil stel, doen dit. Verdedig jou saak. Praat oor jou pyn en jou ervaring. Wys op onreg. Maar moenie die kruis gebruik om jou liefdeloosheid te heilig nie.
Nie as die ander mens ook ’n mens is wat na die beeld van God geskape is nie.
As die kruis jou nie op een of ander manier na mense toe trek nie, moet jy dalk weer vra of jy die kruis se genade verstaan.

Die kruis het nie ’n kleur nie.
Die kruis behoort nie aan wit of swart nie. Nie aan een volk, taal, groep of politieke oortuiging nie.

Die kruis is diensbaarheid. Selfopoffering. Die neerlê van die self.
Dit is om in die voetspore van Jesus te loop.
En wanneer ek by die kruis kom, voel ek soms sprakeloos.

Daar is iets aan die kruis wat my stilmaak.
Dit word omgewe deur ’n oordadige gevoel van heiligheid.
Dit dwing my om stil te word.
Om te buig.
Om te onthou.
Om lief te hê.

05/10/2026

Maandag

Soek vandag na tekens van Oktober

Psalm 23:2–3 (AFR83)

“Hy laat my rus in groen weivelde.
Hy bring my by waters waar daar vrede is.
Hy gee my nuwe krag.”

Dit is die maand Oktober,
die mooiste, mooiste maand!
Dan is die dag so helder,
so groen is elke aand,
so blou en sonder wolke
die hemel heerlik bo,
so blomtuin-vol van kleure
die asvaal ou Karoo.
C. Louis Leipoldt

Mens raak so maklik gefikseerd op die swaar en die droewigheid van die lewe. Dat die wêreld soms mistroostig voorkom, is inderdaad so. Tog bied die natuur homself aan met oordadige kleur en geur. Dit is jammer dat dit by baie van ons verbygaan. Die sleur van elke dag en die verantwoordelikhede wat ons dra, maak dat ’n mens maklik die mooi in die lewe miskyk.

Ons verwys dikwels daarna dat die jaar so vinnig verbygaan. Wrintiewaar, dit is reeds Oktober! Wat het van die tyd geword? Dit voel kompleet asof die tyd deesdae vinniger verbygaan.
Ons sê dit elke jaar, maar tyd het nog nooit vinniger of stadiger verloop nie. Dit gebeur soos deur al die eeue heen – sekonde vir sekonde, minuut vir minuut. Wat afgetik het, is vir altyd verby. Jy kan daarna terugkeer in foto’s, notules en verslae, maar dit is nie meer dieselfde nie.

Daar is niks so kosbaar soos die oomblik nie. Dit is lewend en dinamies, maar ook kortstondig en vlugtig. Dit is hier – en dan is dit verby.
Miskien moet ons net weer Leipoldt se gedig gaan lees. Dit is verbeeldingryk en passievol, uitnodigend en vriendelik. Miskien kan ons vir ’n oomblik van die swaar en die worsteling vergeet. Daar is inderdaad veel meer aan die lewe as net dit.

Miskien hou God ook van Oktober.
Die wintergrou is aan die kruis van Golgota vasgespyker. Die droë lote begin weer bot. Oral waar jy kyk, is daar tekens van belofte – die belofte van ’n nuwe dag.
Die Bybel is jou Oktobergids. Lees die Psalms – dalk sommer die hele klomp hierdie Oktober. Moenie verbaas wees as jy jouself daarin raakloop nie. Die Psalms praat immers eerlik oor die winterseisoene van die lewe. Hulle skram nie weg van verlatenheid, vrees, pyn en selfs die dood nie.
Maar selfs wanneer die doodsheid van die winter sonder omhaal beskryf word, breek Oktober telkens weer deur.

Soms dring Oktober sommer onverwags tussen die donker deur.
Dit wil perspektief bring.
Dit sê vir jou: Dit is nie alles verniet nie.
Die nuwe het gebeur – en dit gebeur weer en weer waar die lewe met geloofsmoed geleef word.
As jy dit toelaat, sal die dryfsand van ellende jou insluk. Moenie daar kuier nie.

Psalm 23 is so ’n Oktober-psalm.
“Hy laat my rus in groen weivelde.”
Daar is waters waar daar vrede is. Daar is nuwe krag.
En dan word die tafel gedek.
Die tafel kreun onder die gewig van God se onverdiende genade.

Omstandighede dreig, maar hulle greep is vernietig.
Dood, waar is jou angel?
Doderyk, waar is jou oorwinning?
Alles nuut. Alles Christus. Alles kleurryk en geskakeerd met reënbooggenade.

Soek vandag na tekens van Oktober.
Kyk ’n bietjie stadiger.
Ruik die lente.
Sien die kleur.
Hoor die voëls.
En onthou: God is nog besig om nuwe lewe te laat bot.

02/10/2026

Vrydag

Tot die eindfluitjie

“Wie tot die einde toe volhard, sal gered word.” — Matteus 24:13

Ons gesels hierdie week oor rugby as ’n metafoor vir die geloofslewe.
Kom ons dink vandag aan ’n gewone rugbywedstryd. Dit word in twee helftes gespeel, en tussen die twee helftes is daar rustyd.
Rustyd is ’n besondere oomblik.

Teen daardie tyd het die twee spanne mekaar leer ken. Hulle het mekaar se sterkpunte raakgesien en probeer benut. Hulle het ook swakpunte geïdentifiseer en besluit hoe om dit aan te spreek. Die afrigters praat met die spelers. Die span word bemoedig. Strategieë word aangepas. Wat in die eerste helfte gebeur het, beïnvloed die manier waarop die tweede helfte gespeel gaan word.
En dan stap die spelers weer op die veld.
Die spanning is tasbaar.
Die skare wag.

Soms is daar ’n belangrike strafskop of doelskop, en skielik raak ’n hele stadion doodstil. Almal wag in afwagting.
En wanneer die skop deur die pale gaan, bars die pawiljoene los.
Maar uiteindelik, maak nie saak hoe spannend die wedstryd is nie, kom daar ’n oomblik wanneer die eindfluitjie blaas.
En wanneer die eindfluitjie blaas, is die wedstryd verby.
Ons weet dat die eindfluitjie kom

Dit is ’n besondere beeld vir die geloofslewe.
Ons weet dat die geskiedenis van hierdie wêreld nie eindeloos sal voortgaan nie. Daar kom ’n dag waarop Christus weer sal kom en die geskiedenis tot sy finale bestemming sal bring.
Ons weet nie wanneer daardie dag sal wees nie.
Jesus sê immers dat niemand die dag en die uur ken nie.
Maar ons weet dat daardie dag kom.

So seker as wat ’n rugbywedstryd uiteindelik ’n eindfluitjie het, so seker kom daar ’n einde aan hierdie bedeling.
En dit behoort iets aan die manier waarop ons vandag leef, te verander.
Want as ’n span weet dat daar nog net ’n paar minute oor is, speel hulle anders.
Hulle speel met dringendheid.
Hulle konsentreer.
Hulle gee nie maklik op nie.
Hulle weet die tyd is beperk.
Die oorwinning is reeds behaal

As kinders van God het ons egter ’n besondere sekerheid.
Ons wag nie angstig om te ontdek of Christus uiteindelik gaan oorwin nie.
Christus het reeds oorwin.

Die kruis was nie ’n nederlaag nie.
Die leë graf was nie ’n toevallige wending in die verhaal nie.
Deur sy dood en opstanding het Christus die beslissende oorwinning behaal.
Ons leef dus vanuit die sekerheid van wat Christus reeds gedoen het.
Maar dit beteken nie dat ons nou maar onverskillig kan leef nie.
Inteendeel.

Juis omdat ons weet wat dit gekos het, speel ons met groter erns.
Die oorwinning het ’n ontsaglike prys gehad.
Christus het sy lewe gegee.
En deur die eeue heen het gelowiges ook groot offers gebring om die evangelie aan ander oor te dra. Sommige het hulle gemak prysgegee; ander hulle besittings; ander hulle veiligheid; en sommige selfs hulle lewens.
Ons staan vandag op die skouers van mense wat voor ons geloop het.
Daarom speel ons nie hierdie wedstryd slordig nie.
Ons speel nie sonder oortuiging nie.
Ons neem nie die voorreg om deel te wees van God se Koninkryk as vanselfsprekend nie.

Die sekerheid van Christus se oorwinning behoort nie tot passiwiteit te lei nie, maar tot getrouheid.
Ons het nog ’n taak, ons het nog ’n roeping.
Daar is nog mense wat die evangelie moet hoor.
Daar is nog gebrokenheid waarheen die liefde van Christus moet gaan.
Daar is nog onreg wat aangespreek moet word.
Daar is nog punte wat vir die Koninkryk aangeteken moet word.
En daarom bly ons op die veld.
Tot die eindfluitjie

Daarom is die oproep vandag eenvoudig:
Moenie ophou speel nie.
Moenie toelaat dat teleurstelling jou van die veld af dwing of dat teenstand jou ontmoedig nie.
Moenie toelaat dat gemak jou passief maak nie.
Hou aan.

En bly op jou pos totdat die eindfluitjie blaas.
Want wanneer daardie fluitjie uiteindelik blaas, sal die wedstryd verby wees.
En dan wag daar nie bloot ’n telling op die telbord nie.
Daar wag die stem van die Here.
Die stem waarna elke getroue speler uiteindelik verlang:

“Mooi so, goeie en getroue dienskneg. Oor weinig was jy getrou; oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.”
Tot daardie dag:
bly op die veld.
Hou aan speel.

Address

15 Frans Korb Street
Krugersdorp
1739

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when ToekomsVenster / FutureWindow posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Organization

Send a message to ToekomsVenster / FutureWindow:

Shortcuts

Share