01/09/2026
Dinsdag
Hoër grond
“Van die eindes van die aarde af roep ek na U, want ek voel hoe my moed my begewe. Bring my op die rots waar ek nie self kan kom nie.”
Psalm 61:3
Die pynlike gebeure in Nepal dwing ’n mens tot stilstand.
Videobeelde van die verwoestende vloed is ontstellend. Water, modder, klippe en puin vee in ’n oomblik deur gebiede en laat ’n spoor van verwoesting agter. Huise, paaie en brûe word vernietig. Mense het gesterf en baie ander word steeds vermis. Reddingspanne werk onder uiters moeilike omstandighede om mense te bereik en hulp te verleen.
Dit laat ’n mens weer besef hoe klein en weerloos ons soms teen die kragte van die natuur staan.
Ons harte gaan uit na die mense van Nepal en almal wat deur hierdie ramp geraak is.
Dit maak nie saak aan watter geloof of lewensbeskouing iemand behoort nie. Dit is mense van vlees en bloed. Mense met drome, ideale, herinneringe, geliefdes en ’n eie verhaal. En in ’n oomblik kan ’n hele lewe onherkenbaar verander.
Terwyl ek na die berigte kyk, tref een gedagte my besonder sterk. Mense in bedreigde gebiede word gewaarsku om weg te beweeg van die gevaar en na veiliger grond te gaan.
Beweeg na hoër grond.
Dit laat my d**k aan ons geloofslewe.
Daar kom tye van nood, hartseer, trauma en ontwrigting in elke mens se lewe. Dalk nie so dramaties en sigbaar soos die ramp in Nepal nie. Maar jou pyn is eg. Jou verlies is werklik. En jy moet op een of ander manier daarmee saamleef en daarvan probeer sin maak.
Die woorde:
“Beweeg na hoër grond” praat met my.
Nie omdat ons van die werklikheid wil wegvlug nie. Nie omdat geloof beteken dat ons maak asof die pyn nie bestaan nie. Maar omdat daar tye kom wanneer ons besef dat ons nie op eie krag kan bly staan nie.
Die psalmdigter ken hierdie ervaring: “Bring my op die rots waar ek nie self kan kom nie.”
Daar is plekke in die lewe waarheen jy jouself eenvoudig nie kan dra nie. Jou eie krag is nie genoeg nie. Jou planne werk nie meer nie. Die veiligheidsmaatreëls waarop jy gereken het, bied nie die sekerheid waarop jy gehoop het nie.
Ons doen natuurlik alles wat verantwoordelike mense behoort te doen. Ons beplan. Ons berei voor. Ons probeer risiko beperk. Ons maak voorsiening vir moontlike krisisse. Dit is goed en reg. Maar ons weet ook dat daar oomblikke kom wanneer selfs die beste planne nie genoeg is nie.
Dan ontdek ons weer wat dit beteken om te sê: Here, ek het U nodig.
Die “hoër grond” waarvan ek praat, is nie ’n plek waar ons bo ons probleme uitstyg en maak asof hulle nie bestaan nie. Dit is die teenwoordigheid van God. Daar bring ons ons vrees. Daar verwoord ons ons onsekerheid. Daar huil ons as dit nodig is. Daar erken ons dat ons nie alles verstaan nie en nie alles kan beheer nie. Die Psalmis praat van ’n rots — ’n plek van vastigheid wanneer alles rondom jou onseker geword het.
En miskien is dit juis wat geloof soms beteken: Nie dat die waters onmiddellik ophou styg nie. Nie dat elke probleem skielik verdwyn nie. Maar dat daar, te midde van die waters, Iemand is by wie ons kan skuil.
Jesus se dissipels het op ’n keer gevra: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.”
Wanneer die lewe oorweldigend word, bly dit ook ons vraag. Na wie toe sal ons gaan?
Mag ons nie wag totdat die waters reeds rondom ons styg voordat ons na God toe beweeg nie. Mag ons Hom ken as die rots waarop ons staan — ook wanneer ons self nie meer weet waarheen om te gaan nie. En mag ons vandag in besonder aan die mense van Nepal d**k en bid.
Here, ontferm U oor almal wat geliefdes verloor het, wat vermis word, wat beseer is en wat alles verloor het. Gee wysheid en krag aan dié wat red, soek en versorg. En wees naby aan mense vir wie die grond onder hulle voete letterlik en figuurlik verdwyn het.
Amen.