Penpunt Skryfdinge

Penpunt Skryfdinge Skryfkuns 'n Forum vir aspirant skrywers is aan die einde van 2010 onder die vleuel van die Kempton Park Vriende van die Biblioteek in die lewe geroep.

Die skryfkring het ongelukkig intussen opgehou om aktief te funksioneer, maar daar word nog via hierdie blad skryfdinge gedeel

Terwyl daar kosbare lewenslesse en leergeleenthede opgesluit is vir jongmense in ’n boek soos Die seun met die swaeltjie...
01/06/2026

Terwyl daar kosbare lewenslesse en leergeleenthede opgesluit is vir jongmense in ’n boek soos Die seun met die swaeltjie, is dit die onthou van lank gelede wat my met ’n intensiteit kom aanval het met die lees daarvan.
Ek is ’n produk van Johannesburg in die sestigs en sewentigs, daar gebore en grootgeword. Parkstasie en die Nelson Mandelabrug ken ek, en Hillbrow… Saam met jeuggroepe Vrydagaande daar gaan rondloop. Daarom het ’n ongelooflike hartseer my getref om saam met Tumelo en Dikeledi die groot stad, soos dit deesdae daar uit sien, te gaan ontdek.
Ons is almal bewus van die uitdagings van enkelouers van alle rasse, maar om die statistieke so swart op wit te sien, is ontnugterend. Verder is daar talle kinders, soos Tumelo en Dikeledi, wat nie een nie maar albei ouers verloor, een aan die dood, die ander aan hulpeloosheid. “Huise sonder ouers. En nou is hulle ook een.” (p.69 e-boek)
Die storielyn is veel meer as die verhaal van ’n swaeltjie wat liefdevol versorg word totdat sy herstel en weer kan vlieg. Dit is ook die grootword van Tumelo, wat nog tot op hede getwyfel het aan sy eie vermoëns. Daar is ’n oortuiging wat hom noop om sy pa te gaan soek: “Almal is besig om self te verdrink. Hier is soveel hartseer. Mense sonder werk. Swanger tieners. Drank. Inbrake. Huise sonder ouers.” (p.85 e-boek)
Die skrywer balanseer die swaar met ’n paar elemente wat mens opnuut laat glo in ubuntu, aan medemenslikheid. Soos ’n taxibestuurder wat kinders kosteloos laat saamry, bure wat omsien na mekaar.
Die seun met die swaeltjie is sopas aangewys as die wenner in die Lapa Jeugromankompetisie. Die teikengroep is jongmense van ongeveer 11jaar en ouer, maar beslis nie daartoe beperk nie. Baie geluk aan Fanie Viljoen met hierdie prestasie. Die gedrukte, sowel as e-boek is bekombaar op Lapa Uitgewers se webtuiste.

           Sunet du Plessis is ’n indrukwekkende nuwe stem in Afrikaanse romans. Sy is wel deeglik onderlê in die taal e...
28/05/2026


Sunet du Plessis is ’n indrukwekkende nuwe stem in Afrikaanse romans. Sy is wel deeglik onderlê in die taal en skryfkuns, weliswaar met artikels en kortverhale en gewapen met ’n BA in tale. Groete uit Skotland is haar debuutverhaal en wel in die geestelike fiksie genre.
Vergelyk jy die skrywer se biografie met dié van die fiktiewe karakters in die storie, is daar genoeg parallelle om te verseker dat die storielyn geloofwaardig is. Frances beleef ’n pynlike ontnugtering wat haar noop om Skotland toe te gaan, na waar haar oorlede ma se wortels lê. Die manlike hoofkarakter wat sy daar ontmoet, is ook ’n Suid-Afrikaner, ’n jong predikant met ’n groot trauma in sy verlede – die besonderhede waarvoor die leser moet wag tot byna aan die einde van die verhaal.
Een van die boublokke van die storielyn, is die kontroversiële kwessie van homoseksualiteit. Die skrywer hanteer dit sensitief sodat geen leser, wat jou oortuiging mag wees, sal aanstoot neem nie. ’n Verdere bousteen is die feit dat slegte dinge ook met goeie mense gebeur. Verhoudings wat op verskillende maniere uitgedaag word, is volop in die ryk storielyn.
‘n Beeld wat my bybly, is dié van skanse wat mense om hulself bou. “Ons kan nie die skanse wat mense om hulle bou met die geweld van ons oortuigings afbreek nie. Maar, ons kan oorstap en by hulle vuur gaan sit, na hulle luister en dáár wees vir hulle.” (p.182)
Groete uit Skotland is uitgegee deur Luca, die geestelike druknaam van Lapa Uitgewers. Soek dit in goeie boekwinkels of koop ’n e-boek op Lapa Uitgewers se webwerf.

        “Elke mens hanteer verlies op sy eie manier, het die sielkundige gesê”. (p.15) Aan die woord is die eerstepersoo...
25/04/2026


“Elke mens hanteer verlies op sy eie manier, het die sielkundige gesê”. (p.15) Aan die woord is die eerstepersoonverteller, Ellie, wat ’n ontsaglike groot verlies deurgemaak het. Dit was egter net die begin van gebeure wat uiteindelik haar wêreld nog verder sou laat uitmekaar spat.
Ek het Ellie se verhaal uiters emosioneel beleef, hou maar die snesies byderhand. Hoewel die skryfstyl baie gemaklik is, vra die storielyn vir konsentrasie omdat daar teruggegryp word so ver as ses maande gelede. Hierdie wisselwerking in tydgleuwe hanteer die skrywer met gemak, met hoofstukke wat dit as sulks aandui.
Teen hoofstuk 22 maak die interessante titel perfek sin: “Ek is Ellie én Lisa, besluit ek. Blomtuin, rivierbos én kliprantjie, Ek is Elizabeth.” (p.97) Lees gerus self In my ander lewe is ek Ellie, om te verstaan hoe Ellie by hierdie stelling uitkom.
Die storielyn is ryk aan aktuele onderwerpe: groepsdruk, sosiale media se invloed, jong liefde, vriendskap, afwesige ouers (om verskeie redes). Daar is lewensverlies en gevolglike rou met verreikende gevolg, ook verlies van drome en ideale. Die boek is duidelik gemik op die tienermark, maar ek wil my verstout om te sê dat volwassenes ewe lekker daaraan gaan lees, al is dit dan met ’n traan of twee.
Jy kan die gedrukte boek, of ’n e-boek vind op Lapa Uitgewers se webwerf.

       Juanita Aggenbach se boeke lyk almal vir my bekend vanweë treffende buiteblaaie, maar ek glo nie ek het al enige ...
21/04/2026


Juanita Aggenbach se boeke lyk almal vir my bekend vanweë treffende buiteblaaie, maar ek glo nie ek het al enige daarvan gelees nie. Toe ek haar vyfde roman, Liewer as lig, begin lees, was daar geen twyfel dat dit stewig staan in die geestelike fiksie genre nie.
Daar word nie geskimp oor geloofsake soos wedergeboorte nie, dit word by die naam genoem. Onderwerpe wat van altyd af twispunte is in kerkgeledere, soos grootdoop versus kinderdoop, gebruik van sterk drank en die immer-aanvegbare rookgewoonte, kom draai in die storielyn oor Schalk en Leah se lewe. Tekste uit die Bybel word selektief aangehaal en Schalk se gesprekke met die Vader is ’n perfekte weergawe van sy stryd en oorwinnings.
Schalk, ’n advokaat, en Leah, ’n hoërskoolonderwyseres, lewe welvarend en hard. Dit is vir hulle nie ongewoon om ná ’n kuier met vriende, erg kroes wakker te word nie. ’n Kollega van Schalk is ’n uitgesproke Christen en sy voorbeeld begin vir Schalk aanspreek; soveel so dat hy by die Here uitkom. Leah is egter in totale verset teen die nuwe Schalk en weier om saam met hom Bybel te lees.
Die verhaal onderstreep dat om die Here te volg jou nie gaan vrywaar van probleme nie. Daar is nie noodwendig kitsoplossings vir probleme soos finansies nie. Dit mag nodig wees om onvoorwaardelik te vergewe en indringend te kyk na prioriteite.
Liewer as lig lees maklik – dank aan die uitgewer, Lux Verbi (geestelike druknaam van Jonathan Ball Uitgewers) vir die lettertipe wat sag is op die oog. Klein letters en digte spasiëring word vir my al hoe moeiliker om te hanteer. Ek kan dit aanbeveel vir ander met dieselfde dilemma.

     “There is no handbook for grief. There cannot be, because each loss is as unique as the person it belongs to.” (p.3...
17/04/2026



“There is no handbook for grief. There cannot be, because each loss is as unique as the person it belongs to.” (p.36) This is but one of the profound truths penned by Dominique Olivier in her book, Lessons from loss. The author does not strive to act as councilor or therapist, although she has a passion for reaching out to others who has suffered a loss. On the contrary, it is a painfully honest account of her journey through a devastating loss that she suffered.

Dominique lost both her husband and her young daughter in a horrific traffic accident. From the outset she makes it clear that there should be no hierarchy of loss. Although losing a spouse or a child is often deemed as the worst kind of loss, it can be the loss of a marriage, a miscarriage or a job that sets you off on a painful path of recovery. Another sentiment that struck home, is the idea that grief has no expiry date. (p.51) She describes it as “something chronic”.

The writer does not lean on sentimentality. The vivid descriptions of panic attacks, the constant anxiety that plagued her, the criticism that she encountered during the journey through her grief, painful triggers – all of this put together in a remarkable account of loss, and an attempt to “move forward” not to “move on”.

Whether or not you are a member of what the author calls “The Losers Club”, membership of which can only be obtained by own loss, the journey of Dominique Olivier will not leave you untouched.

Lessons from Loss is a publication of Penguin Random House South Africa, and available in good bookshops. You can also find an e-book version on the website of Lapa Publishers.

      Immer Wes, Mentje, kind van Pas-op-kamp, en ten slotte, Na ’n Plaas in Afrika, is ’n boeiende oorlogstrilogie. Elk...
15/04/2026


Immer Wes, Mentje, kind van Pas-op-kamp, en ten slotte, Na ’n Plaas in Afrika, is ’n boeiende oorlogstrilogie. Elke aflewering getuig van deeglike navorsing en kennis van die onderwerp, sowel as die uitsonderlike skryfvaardigheid van Irma Joubert.
“Waar lê die heldedaad? By die een wat gesterf het en alles onafgehandel agtergelaat het? Of by die een wat hardnekkig bly klou aan sy trots en alles waarskynlik verloor?” (p.65 e-boek) Hierdie, en ander diep vraagstukke, ontbering en lewensverlies, word intensief oopgeskryf in Na ’n plaas in Afrika.
’n Stukkie humor hier en daar, is ’n goeie teenvoeter vir swaarmoedigheid. Daar was die kinders in Eaglesham wat ’n tuisgemaakte bom prakseer wat chaos veroorsaak, Twee tieners se lomp poging om ’n baba se doek te ruil, het my letterlik trane laat lag.
Wat my veral beïndruk het was die knap en ongeforseerde wyse waarop die skrywer die karakters uit die vorige twee boeke in die reeks, uiteindelik saambring op die betrokke plaas in Duitswes. Selfs karakters uit vorige reekse maak weer ’n draai, soos Pérsomi uit die Pontenilo-reeks, wat hier ’n belangrike rol vervul. Daar is selfs sinvolle verwysings na Kobus Neethling en sy jonger sussie, Gretl, die oorlogswesie en Kate en Bernard Neethling. Dit was soos om ou vriende weer raak te loop. Ek kan verstaan waarom dit vir Irma Joubert gevoel het asof die karakters in haar huis gewoon het.
Met hierdie reeks nou finaal vir my afgesluit, sien ek uit na Rebekka van Kameeldoringplaas, wat eersdaags op die rakke sal wees. Irma Jouberts se oorlogsromans word uitgegee deur Lapa Uitgewers. Dit is steeds in gedrukte, sowel as e-formaat te kry op hulle webwerf.

       Ek het nog nie voorheen ’n boek gelees deur Christiaan Bakkes nie. Dit verduidelik dalk waarom die boek vir ’n ge...
14/04/2026


Ek het nog nie voorheen ’n boek gelees deur Christiaan Bakkes nie. Dit verduidelik dalk waarom die boek vir ’n geruime tyd op my leeshopie bly lê het, die uitsonderlike buiteblad ten spyt. Toe ek egter ’n paar dae gelede die boek optel, het die gemaklike, vloeiende skryfstyl van die skrywer my dadelik meegevoer. Voeg daarby ’n baie interessante vermenging van feite en fiksie, en jy het ’n treffer in die historiese fiksie genre.

Die skrywer slaag baie goed daarin om die natuur en die olifante as karakters lewend te maak. Die konflik tussen mens en dier staan sentraal in die verhaal. Verder word die besondere dinamika binne ’n trop olifante goed uitgebeeld. ’n Verdere pluspunt is die geslaagde spanningslyn en die emosionele en fisiese stryd van Caleb Kelly om oorlewing van die Addo-olifante te bewerkstellig.

Die olifantprobleem in die omgewing wat boere opstandig gemaak het, het die Kelly broers ook direk geraak. Toe die olifante hulle windpomp vernietig, was Caleb in sy woede van plan om ’n olifant te skiet. Maar hulle spaar sy lewe en daar word ’n besondere band gevestig tussen hom en die reuse diere.

’n Boek soos Soetdoring in die ruigtes demonstreer die waarde van ’n goeie historiese storielyn. ’n Suiwer geskiedkundige relaas van die hervestiging van olifante in ’n veilige park, sou nie by benadering soveel leesgenot verskaf het nie. Ek kan die boek aanbeveel vir enige leser met ’n liefde vir olifante en die natuur. Selfs al het jy ’n vrees vir olifante, soos ekself, gaan die boek jou diep raak.

Soetdoring in die ruigtes is uigegee deur Human & Rousseau, ’n druknaam van Jonathan Ball Uitgewers.

       Ek lees van tyd tot tyd ’n boek wat tyd vra om in te sink alvorens ek my gedagtes daarrondom kan neerpen. Volmaan...
04/04/2026


Ek lees van tyd tot tyd ’n boek wat tyd vra om in te sink alvorens ek my gedagtes daarrondom kan neerpen. Volmaan in Baviaanskloof is ’n perfekte voorbeeld daarvan. En selfs na die nabetragting voel ek myself onwaardig om iets by te voeg by die diep reis waarlangs Jeanette Stals my geneem het.
Fransien Theron is ’n jong kunstenaar wat oor die tydperk van ’n paar jaar méér verloor as wat enige mens behoort te dra. Haar baba-seun, haar huwelik, haar vermoë om vreugde te vind in kleure en verf. Soveel so, dat sy haarself afsonder op ’n plaas in die Baviaanskloof, vanwaar sy met volmaan, ’n einde wil maak aan haar troostelose bestaan. En waar sy traumatiese fisiese verlies ly.
Ek was verras met die treffende afwisselende perspektiewe van die luiperdwyfie en die getraumatiseerde vrou. Nog meer wanneer die perspektiewe vermeng, mens en dier, verlede en hede saamvloei. Bladsye 130-135 is ’n gedeelte wat gemerk moet word vir herlees, dit is so treffend geskryf.
Die skrywer maak die natuur en dierelewe ongeforseerd deel van die storielyn. Stap jy saam met Dolf deur die ruigtes (p.178) beleef jy die dassies, die eekhorings, die witkruisarend, ruik jy die luiperd.
Volmaan in Baviaanskloof, wat uitgegee is deur Human & Rousseau, is hoogs aanbeveel en sal op my rak bly om in die toekoms te herlees.

         Enigiets Italiaans het per se die potensiaal om my te betower. Hierdie nuwe jeugverhaal deur Troula Goosen, Die...
25/03/2026


Enigiets Italiaans het per se die potensiaal om my te betower. Hierdie nuwe jeugverhaal deur Troula Goosen, Die Kasteel van die Blou Draak, doen dit beslis.
Nicki het gretig uitgesien om vir haar tannie Em te gaan kuier, maar haar entoesiasme word gedemp wanneer haar pa besluit haar stiefsuster en dié se geliefde, wat sy blatant by Nicki afgeneem het, moet saam Italië toe. Daar is sommer van meets af aan spanning, met erge turbulensie en ’n hewige donderstorm tydens die vlug. Reeds met die aankoms by die Marco Polo lughawe, begin vreemde dinge gebeur. Harde donderslae, en vreemd genoeg, weerlig ná die donderslag.
In Venesië, waar hulle vakansie begin, koop Nicki ’n ring wat ’n baie belangrike rol speel in hierdie fantasie. Dit is egter wanneer hulle aankom by Castello di Zumelle, wat dit baie interessant en vreemd raak. Dit is tyd vir die Fees van die Blou Draak met verskeie Middeleeuse aktiwiteite. Die ring laat Nicki tussen die verlede en die hede reis, en beide hierdie tydgleuwe word baie realisties aangebied.
Al die elemente van ’n geslaagde fantasie is teenwoordig: ’n held om haar te beskerm, ’n wrede gravin wat haar wil kwaad aandoen, ’n draak wat uit sy graf vrykom, op soek na sy ring, bloedvergieting en wraak. ’n Mens moet aandagtig lees, want verlede en hede versmelt met die tydspronge wat gebeur wanneer Nicki die ring aan haar vinger sit.
Al is fantasie nie my gunsteling genre nie, het ek die boek werklik baie geniet hoewel dit gemik is op die jong-tienermark. Die Kasteel van die Blou Draak is uitgegee deur Lapa Uitgewers

Address

Kempton Park

Telephone

+27721591622

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Penpunt Skryfdinge posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Organization

Send a message to Penpunt Skryfdinge:

Share