01/06/2026
Terwyl daar kosbare lewenslesse en leergeleenthede opgesluit is vir jongmense in ’n boek soos Die seun met die swaeltjie, is dit die onthou van lank gelede wat my met ’n intensiteit kom aanval het met die lees daarvan.
Ek is ’n produk van Johannesburg in die sestigs en sewentigs, daar gebore en grootgeword. Parkstasie en die Nelson Mandelabrug ken ek, en Hillbrow… Saam met jeuggroepe Vrydagaande daar gaan rondloop. Daarom het ’n ongelooflike hartseer my getref om saam met Tumelo en Dikeledi die groot stad, soos dit deesdae daar uit sien, te gaan ontdek.
Ons is almal bewus van die uitdagings van enkelouers van alle rasse, maar om die statistieke so swart op wit te sien, is ontnugterend. Verder is daar talle kinders, soos Tumelo en Dikeledi, wat nie een nie maar albei ouers verloor, een aan die dood, die ander aan hulpeloosheid. “Huise sonder ouers. En nou is hulle ook een.” (p.69 e-boek)
Die storielyn is veel meer as die verhaal van ’n swaeltjie wat liefdevol versorg word totdat sy herstel en weer kan vlieg. Dit is ook die grootword van Tumelo, wat nog tot op hede getwyfel het aan sy eie vermoëns. Daar is ’n oortuiging wat hom noop om sy pa te gaan soek: “Almal is besig om self te verdrink. Hier is soveel hartseer. Mense sonder werk. Swanger tieners. Drank. Inbrake. Huise sonder ouers.” (p.85 e-boek)
Die skrywer balanseer die swaar met ’n paar elemente wat mens opnuut laat glo in ubuntu, aan medemenslikheid. Soos ’n taxibestuurder wat kinders kosteloos laat saamry, bure wat omsien na mekaar.
Die seun met die swaeltjie is sopas aangewys as die wenner in die Lapa Jeugromankompetisie. Die teikengroep is jongmense van ongeveer 11jaar en ouer, maar beslis nie daartoe beperk nie. Baie geluk aan Fanie Viljoen met hierdie prestasie. Die gedrukte, sowel as e-boek is bekombaar op Lapa Uitgewers se webtuiste.