30/08/2026
Sara
’n Gelowige Vrou
Iemand het eenkeer gesê: "Agter elke uitmuntende man is daar 'n uitmuntende vrou." Hoewel ons nie alles van
Sara af weet wat ons graag sou wou nie, het die Skrif meer oor haar te sê as oor feitlik enige ander vrou. Haar man, Abraham, is die vader van die gelowiges, maar sy is ook 'n voorbeeld van geloof in God. Soos Abraham was sy ook uit die Galdeërs, na wie die Skrif verwys as " die wrede, woeste nasie" (Hab. 1:6). Die Galdeërs het later bekend geword as die Babiloniërs (die hedendaagse Irak). Sy is met Abraham getroud voordat die reis na Kanaän begin het (Gen. 11:31).
Hulle was nie Israeliete nie, want Israel (Jakob), hulle kleinseun, was nog nie gebore nie. Hulle was ook nie Jode nie; die naam sou kom van Juda, hulle agterkleinseun.
Nogtans het God hulle geroep en hulle het gehoorsaam, en deur hulle het Hy 'n nuwe volk tot stand gebring: die volk van God.
As ons hierdie week kyk na Sara se lewe, sien ons, nes by Abraham, 'n gebrekkige en onvolmaakte soeke na God, maar nogtans 'n geloof wat groot genoeg was om in Hebreërs 11 die "heldegalery" van die Ou Testament te haal.
En ons sal lesse leer uit haar lewe wat ons sal help in ons eie pogings om God te volg.