17/06/2026
Lyla Galant skryf:
Ek is Lyla Galant, boorling van Hoeko, ’n klein gemeenskap naby Ladismith in die Wes-Kaap.
Ek is deur my enkelma grootgemaak en vir 17 jaar was ek haar enigste kind. Sy is 'n sterk en hardwerkende vrou wat ’n groot invloed op die mens is wat ek vandag is. Sy het my geleer dat sukses nie bepaal word deur jou omstandighede nie, maar deur jou houding, deursettingsvermoë en bereidwilligheid om hard te werk.
My skoolloopbaan het begin by Hoërskool Ladismith. As gevolg van my ma se werksomstandighede het ons na Robertson verhuis, waar ek my skoolopleiding voortgesit het by Robertson Christian School. As ’n Afrikaanssprekende leerder in ’n Engelse skool was dit aanvanklik uitdagend, maar met die ondersteuning van my ma en die skool het ek die taal vinnig onder die knie gekry. Ek het my skoolloopbaan voltooi by Hoërskool Robertson.
Ek is tans ’n derdejaarstudent aan die Universiteit van Kaapstad, waar ek besig is met ’n BA-graad in Media & Writing en Afrikaans. Van jongs af het ek ’n passie gehad vir media, fotografie, kreatiewe skryfwerk en storievertelling. Dit is hierdie passies wat my geïnspireer het om my studierigting te kies en my droom na te streef om deur media en kommunikasie ’n positiewe impak te maak.
Gedurende 2025 het ek as PR-, Branding- en Sosiale Media-verteenwoordiger van Graca Machel-koshuis gedien, asook as mentor vir medestudente. Hierdie rolle het my waardevolle ervaring in leierskap, kommunikasie, gemeenskapsbetrokkenheid en die ondersteuning van ander studente gegee.
Ek dien tans ook op die subkomitee van die Coloured Society aan die Universiteit van Kaapstad. Ek is betrokke omdat ek glo in die belangrikheid van verteenwoordiging, gemeenskapsbou en die skep van ruimtes waar studente hul identiteit kan vier en mekaar kan ondersteun.
As iemand wat uit ’n klein dorpie kom, verstaan ek die uitdagings van wat dikwels die "kleindorpie-sindroom" genoem word – die gevoel dat jou drome beperk word deur waar jy vandaan kom of dat groot geleenthede net vir ander mense beskore is. My eie reis het my egter geleer dat jou omstandighede nie jou toekoms bepaal nie en dat jou herkoms nie jou bestemming definieer nie. Ek is passievol daaroor om jongmense aan te moedig om groot te droom.Dat hul, hul potensiaal raak sien en nie toe te laat dat hul omstandighede of agtergrond hul drome bepaal nie. Harde werk, deursettingsvermoë, geloof en die moed om geleenthede aan te gryp, is meer moontlik as wat ons dikwels besef. Onthou terwyl daar lewe is, is daar hoop. Dit is nooit te laat om n nuwe begin te maak nie.
Die skrif wat my ma by my ingeskerp het is, Filippense 4 vers 13.
Ek wil die jeug bemoedig met die volgende: Ken God in alles wat jy aanpak ,Hy sal jou die regte pad laat loop.