11/08/2026
Lente se 73ste verjaarsdag - absoluut verruklik!
Vandag het ons Lente se 73ste jaar in absolute styl afgeskop, en glo my, dit was alles behalwe ’n "vaal gedoente"!
Die lug was gevul met die engelstem van Helene Bester, wat ons herinner het hoekom musiek die siel so goed doen.
Chelize Badenhorst (oud lid van Lente) het ons gewys hoe om die "onlekker" uit onthaal te haal. Met drie asemrowende tafels, spyskaarte en resepte wat jou mond laat water, het sy ons geleer dat gasvryheid nie ’n "moet-kosmaak-straf" is nie, maar ’n kuns. Sy het ons gewys hoe om die mooi in ons eie kaste raak te sien en ’n gewone kuier op te tower in iets onvergeetliks.
Verrassingspakkies is uitgedeel en gaste is getrakteer met tuisgemaakte turkse lekkers en ń sjampanje-roos sepie.
Natuurlik is geen feesviering volledig sonder ’n tafel wat kreun nie. Ons het aangesit vir tee by ’n tafel wat letterlik gesmeek het om genade onder die gewig van al die lekkernye. Van quiches, toebroodjies, groente- en vrugteborde, frikadelletjies, knapworsies, pienk kolwyntjies, koeksisters, melktertjies, Paula se blokkies en suurlemoenkoppies, (suikerspitstyd van formaat!)
Dankie aan elke feesvierder wat hierdie dag een gemaak het om te onthou.
Lente, op nog vele jare van floreer en lekker kuier!