14/10/2026
𝙣 𝙃𝙚𝙚𝙧𝙡𝙞𝙠𝙚 𝙝𝙚𝙧𝙞𝙣𝙣𝙚𝙧𝙞𝙣𝙜 𝙫𝙖𝙣 𝙬𝙖𝙩 𝙧𝙚𝙜 𝙡𝙤𝙤𝙥 𝙞𝙣 𝙎𝙪𝙞𝙙 𝘼𝙛𝙧𝙞𝙠𝙖.
Die Worth It Foundation was gisteraand bevoorreg om die Maak My 'n Miljoenêr gala by te woon. Wat 'n besonderse aand, en wat 'n voorreg om van die jong entrepreneurs te ontmoet wat onder die mentorskap van Albert Van Wyk hul eie besighede bou.
Dit was veral lekker om na hul stories te luister, te hoor waar hulle begin het, wat hulle al geleer het en hoe hulle oor Suid-Afrika se toekoms dink.
En dan is daar die syfers!
Hou vas aan jou stoel …. Hierdie is NIE n tikfout nie. Die Top 20 deelnemers het in die afgelope agt maande die volgende reggekry:
💰 𝐓𝐨𝐭𝐚𝐥𝐞 𝐨𝐦𝐬𝐞𝐭: 𝐑𝟑 𝟎𝟑𝟎 𝟕𝟏𝟓,𝟕𝟑
💵 𝐓𝐨𝐭𝐚𝐥𝐞 𝐰𝐢𝐧𝐬: 𝐑𝟏 𝟔𝟖𝟒 𝟓𝟎𝟎,𝟓𝟒
📈 𝐁𝐞𝐬𝐢𝐠𝐡𝐞𝐢𝐝𝐬𝐠𝐫𝐨𝐞𝐢: 𝟐𝟒 𝟕𝟖𝟔,𝟖𝟐%
Nou moet 'n mens net weer onthou dat hierdie entrepreneurs almal tussen 14 en 18 jaar oud is en steeds op skool is!
Dis nogal iets om oor na te dink. Terwyl die meeste van ons op daardie ouderdom nog gewonder het wat ons eendag met ons lewens gaan aanvang, is hierdie klomp reeds besig om besighede te bestuur, werk te skep en 'n werklike verskil in hul gemeenskappe te maak.
Wat ons die meeste opgeval het, was hul gesindheid teenoor Suid-Afrika. Hulle sien die uitdagings, maar hulle sien ook geleenthede.
Hulle droom nie noodwendig daarvan om iewers anders 'n beter lewe te gaan soek nie. Hulle is besig om n beter iets net hier te bou. 💪🏻
Albert van Wyk, baie geluk met wat jy deur hierdie program en jou mentorskap regkry. Dis wonderlik om te sien wat gebeur wanneer jongmense die regte leiding, aanmoediging en geleenthede kry.
By die Worth It Foundation lê die ontwikkeling en opheffing van mense ons na aan die hart, en daarom was hierdie aand vir ons soveel meer as net 'n glansgeleentheid. Dit was 'n voorreg om eerstehands te sien hoeveel potensiaal daar in ons land se jongmense is.
As jy nog nie Maak My ’n Miljoenêr gekyk het nie, doen jouself 'n guns! Die program word Maandagaande op VIA TV uitgesaai, en al die episodes is ook op Catch Up beskikbaar. Dis beslis die moeite werd om te kyk.
As hierdie jongmense enigsins 'n aanduiding is van wat voorlê, het Suid-Afrika sommer baie om na uit te sien! 🇿🇦❤️