27/08/2026
’n Interessante en leersame oggend by Aan d’Oewer
Op Woensdagoggend, 12 Augustus 2026, het Citrusdal se VLV-dames en ’n paar gaste by Aan d’Oewer byeengekom vir ’n interessante vergadering wat deur die Gesondheidsgroep gereël is.
Gerrit Marais, wat reeds dertig jaar by Citrusdal Rollermeule werksaam is, het die dames meer vertel van die Rollermeule, die verskillende soorte graan en die verskillende stadiums van die maalproses. Hy het ook verduidelik wat die proteïeninhoud van meel beteken, hoeveel vog toelaatbaar is en nog heelwat interessante feite oor meel en die maalproses gedeel. Hierdie Rollermeule haal nie die “blom” uit die meel om koekmeelblom te vervaardig nie. Daarom is die witbroodmeelblom wat hier vervaardig word, geskik vir ’n groter verskeidenheid gebak as net brood.
Irene Jones, eienares van die bakkery, "The Valley Artisanal Bakery", wat op die perseel geleë is, en haar helper, Kundai, het meer vertel van die “sourdough”-suurdeegplantjie - hoe dit bewaar en gevoer moet word, asook van die knieproses en ander belangrike stappe. Kundai het daarna gewys hoe om focaccia-brood van die begin af, ook met dié suurdeegplantjie, te maak en te versier.
Die VLV en Mooi(er) Citrusdal het vertel van hul nuwe projek - waarvan die wins tot voordeel van die gemeenskap aangewend gaan word. Hulle gaan die bekende “groen boekie”, Ons Kerk in die Bo-Olifantsrivier, wat tydens die halfeeufeesviering in 1966 gedruk is, weer die lig laat sien. Só kan die geskiedenis en erfenis van ons dorp bewaar word en voortleef.
Daarna het die dames heerlik saamgekuier en gesmul aan die bakkery se heerlike gebak.
Voorwaar ’n aangename én leersame oggend!