10/04/2026
Nurse Annie Brown
Daar kon nog nie vasgestel word in watter jaar Nurse Annie Brown Ceres toe gekom het nie, maar sy het haar opleiding gekry by St Monica’s Kraaminrigting, Kaapstad.
Met haar aankoms op Ceres het sy aanvanklik gewoon by mnr Pieter Frederick Weber, wat interessant genoeg, volgens vertellinge, die eerste drukkery op Ceres gehad het oorkant die ou polisiestasie. Sy het later munisipale behuising bekom in Proteastraat, nie ver van die ou kliiek af nie. Nurse Annie Brown, of Ou Nurse, soos sy alom bekendgestaan het, het nooit getrou nie, maar het Mary Haas op 5jarige ouderdom ingeneem en na haar omgesien, totdat Mary hoërskool toe is na Zonnebloem.
Ou Nurse was beskryf as ‘n baie hardwerkende mens wat toegwyd was tot haar werk. Voordat verpleegpersoneel aangestel is by die ou Kliniek het sy alleen opgetree as kraamsuster. Sy word onthou met haar fiets en bruin tassie agter op die carier wat die hele Rooikamp, Morrisdale area bedien het. Baie vroue het tuis gekraam en word vertel dat Ou Nurse na die geboorte nog die moeder besoek het vir nasorg.
Joyce Pharo onthou Ou Nurse met haar gestyfde “nurses' veil”, wat tot op die skouers gehang het en uniform wat altyd spierwit was (Die “veil” het sy oorsprong in die sluiers van nonne wat vroeër die verpleging behartig het en was 'n simbool van toewyding, diens en professionaliteit). Daar is min inligting beskikbaar oor Nurse Brown en volgens vertellinge was sy ‘n baie privaat mens wat nie graag oor haarself gepraat het nie. Sy was egter baie lief vir tuinmaak. Syt soggens teen 5 uur in die somermaande al in die tuin gewerfskaf. Sy was ook baie lief vir brei en Bubbles vertel hoe sy baie saam met haar gebrei het. Mary vertel dat Nurse Brown haar geleer brei het en dat sy wat Mary is, reeds op 7jarige ouderdom haar eie trui gebrei het.
In ‘n koerant berig oor Nurse Annie, is genoem dat sy in haar leeftyd sowat 4 500 babas gevang het. Sy het ook voor haar dood, die toekenning ontvang as lewenslange ere-lid van die Suid-Afrikaanse Verpleegstersraad vir haar vele jare se getroue diens as kraamverpleegster.
Bubbles Wagener, neé Weber, onthou hoe ou Nurse in haar gevorderde jare nie meer fiets gery het wanneer sy na haar patiente toe gaan nie maar eder haar fiets met die “casey” gestoot het.
Sy het tot op hoë ouderdom gewerk, totdat die munispaliteit haar versoek het om af te tree. Nie lank na haar aftrede is Ou Nurse na ‘n kort siekbed in Groote Schuur hospitaal, op 19 Junie 1975 oorlede. Sy was 77 jaar oud. Haar impak op die gemeenskap was so groot dat die Kliniek in Leyllstraat na haar vernoem is en ken ons dit vandag as die Annie Brown kliniek. Die datum vir die opening van die Annie Brown Kliniek kon nog nie opgespoor word nie, maar in gesprekke blyk dit moe iewers na 1983 gewees het.
Annie was lidmaat van die St Andrews kerk maar omdat die VGK groter ruimte was, is sy uit dié kerk begrawe. Sy is ter ruste gelê in die Anglikaanse begraafplaas, maar ongelukkig bestaan die grafsteen nie meer nie. Sy het ‘n suster gehad wat in Bonteheuwel woonagtig was en ’n broer in Suid-Wes.