Ceres van Gister en Eergister

Ceres van Gister en Eergister Kom ons vertel van en deel Ceres se Geskiedenis Hierdie blad handel oor die interessante geskiedenis van Ceres en sy omgewing.

Voel vry om jou herinneringe van Ceres te deel op die blad.

Ek doen navorsing oor 'n klok in die Togryers Museum. Volgens 'n ou museumrekord is die klok omstreeks 1940 gevind toe b...
19/06/2026

Ek doen navorsing oor 'n klok in die Togryers Museum. Volgens 'n ou museumrekord is die klok omstreeks 1940 gevind toe bome afgekap is naby die voormalige polisiestasie in Ceres. Die rekord verwys ook na Coetzee Bakwerke.

Kan iemand onthou waar Coetzee Bakwerke geleë was en in watter tydperk dit bedryf is? Enige foto's of herinneringe sal waardeer word.

Cedric Doyle deel sy herinneringe oor Fabriekstraat"Die straat se naam is Fabriekstraat in Morrisdale Ceres. Die Straat ...
30/05/2026

Cedric Doyle deel sy herinneringe oor Fabriekstraat

"Die straat se naam is Fabriekstraat in Morrisdale Ceres. Die Straat links voor is St James Straat. Jare gelede het antie Massie en Karools op die hoek links voor gewoon. Langsaan hulle het Meester Attie Noble en sy vrou Sybil gewoon. Beide van hulle was onderwysers. Avril, Burton en Chester was hul kinders. Dr Jantjie Marthinus, welbekende langafstand atleet het daar ingewoon en in alle opsigte was hy deel van die Noble familie.

Langs die Noble's het die Festers gewoon. Onderwysers - Errol en sy vrou Maud. Hulle kinders was Merle, oorlede Brandon, Shaun en klein maar hardegat Wayne Fester.

Oorkant die pad het Boebie Majaal en sy vrou Fatima gewoon. Een van die strate in Bella Vista is na haar vernoem. Boebie het twee dogters gehad - die oudste was Shanaaz - wie kan hulle name onthou? Boebie het 'n winkel daar naby gehad. Nadat hulle na die Paarl toe getrek het, het Vivian Minnaar en Lennie Davids later daardie huis bewoon.

Op die hoekhuis reg voor aan die linkerkant het oom Soppie en ant Piewie Theys gewoon. Hulle kinders was Herman, Miray, Elrene, Chris, Henry en Jos. Chris was my klasmaat op Skool en was in die SA Vloot se diens. Miray, Elrene en Henny was almal onderwysers gewees.

Op die linkerkant se hoekhuis (agter my) het aunt Joey Manus gewoon. Haar kinders was boet Basie, Nonna, en Ivan. Selma Manus is Nonna se dogter. Op dieselfde erf het oom Pieter Manus en sy vrou aunty Liz gewoon. Aunty Liz het daar by die droë vrugte fabriek gewerk en het baiekeer in die verbyloop vir my met droë vrugte lekkers beloon. Mervyn, Joy, Moos, Eddie, Felicity, Christian, Franklin, (ek kan nie die jongste se naam onthou nie - help my reg) was hulle kinders.

Regs langs die Manusse het die Pietersen's gewoon.

Op die hoekhuis regs voor - daar waar die wit kar staan het oom Hans Lintnaar oftewel oom Hans Bokkieboud gewoon. Ek onthou vir vir oom Frank, Steven en Jonathan Lintnaar. Steven het daardie winkel by Boebie Majaal oorgeneem"

22/05/2026

Ons is tans weer terug op beurtkrag in Ceres en omgewing. Jacob Rooi deel sy herinnering oor die tyd wat krag skaars was:
"SONDER KRAG
Ek lê in die donker en wonder of ouer garde dalk geduldiger is in hierdie beurt-beurt kragsituasie.
As dit so is, kan dit dalk toegeskryf word aan die feit dat ons sonder krag grootgeword het.
Jonger mense ken dalk minder van daardie meer primitiewe manier van bestaan.
Ek self het met kos-op-vuur, kerse, blakers en daai lampolie-lampies met die glasskerm grootgeword.
Op universiteitskoshuis kon ek van die kragloosheid ontsnap, maar terug by die huis was ek weer kragloos.
In my eerste job as onderwyser by Mooi Uitsig Primêr, was daar in Erikastraat, waar ek by my ouers gewoon het, steeds nie elektrisiteit nie.
Toe Burgstraat se huise gebou is, was die wonder van krag nader.
Met dié dat die jong onderwyser gewoond was aan 'n dik bos hare wat in plek gestryk moes word met 'n"hot brush", was elektrisiteit 'n noodsaaklikheid.
So, daar moes plan gemaak word.
Die tweekabel draad is na oom Jan se huis in Burgstraat aangelê en soggens wanneer dit tyd was om die hotbrush aan te kry moes ek vir oom Jan fluit of skree: "Sit aan, oom Jan!".
Teen R20 per maand.
So kon die jong Meneer by die skool opdaag met mooi gestrykte hare agtertoe."

20/05/2026

Daar het al verskeie navrae ingekom na museum oor vorige vloede in ons dorp. Wie dra kennis oor die vloed rondom 1968 ?
Ons hoor graag van julle.

11 Mei 1897 | Die leksikograaf en akademikus Izak Wilhelmus van der Merwe – wat die skrywersnaam Boerneef gebruik het – ...
11/05/2026

11 Mei 1897 | Die leksikograaf en akademikus Izak Wilhelmus van der Merwe – wat die skrywersnaam Boerneef gebruik het – is Maandag 129 jaar gelede op Boplaas in Ceres se Koue Bokkeveld gebore. Sy ouers was Carel Petrus van der Merwe en Eliza Lubbe. Boplaas is sedert 1743 in die familie se besit en die plaaswerf met die historiese gebou is in 1973 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Aan die plaasskole op Boplaas en die buurplaas Houdenbek kry hy sy laerskoolonderrig, waarna hy in 1914 aan die dorpskool op Ceres matrikuleer. Hierna boer hy ’n jaar lank op die familieplaas, maar studeer dan vanaf 1916 verder aan die South African College (vandag die Universiteit van Kaapstad), waar hy in 1918 ’n B.A. en in 1919 ’n M.A. in Afrikaans-Nederlands en ’n Onderwysdiploma behaal.

Hy gee ’n jaar aan SACS onderwys in Hollands, waar N.P. van Wyk Louw een van sy leerlinge was. Van 1922 tot 1961 is hy dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad, later as senior lektor en die laaste aantal jare (1956–1961) as medeprofessor.

Die Hertzogprys vir digkuns word in 1968 postuum aan hom toegeken. Talle van sy gedigte is getoonset, onder meer “Voshaarnooi” en “Die berggans het ’n veer laat val”. Hy was medewerker aan die tweetalige woordeboek wat later as Bosman, Van der Merwe en Hiemstra bekendgestaan het.

01/05/2026

Steven Clarence du Toit het uitgedraf vir die Young Good Hopes en hy deel 'n staaltjie:

"In 1980 op die ouderdom van 21 speel ek my eerste derby wedstryd vir die A span op die rugby veld langs die swembad waar oom Blaauw die opsigter was. Watter legende was oom Blaauw nie ge wees nie. Enig in sy soort, netjies, stiptelik, vriendelike, voorbeeldig en hardwerkend. Die sandveld was altyd gereeld en in goeie speelbare toestand met die kenmerkende reuk van bloekomboom. Derby's was altyd hard en geen genade was gegee of gevra nie. Die atmosfeer was elektries gelaai, die spanning was voelbaar, die senuwees het geknaag. Wie gaan dit wees die blou of groen. YGH het darem n bondgenoot gehad met die Blaauw's wat op die rugby veld gebly het. (Tong in die kies) Die toeskouers was in ekstase en sommige baie emosioneel wat sommige in tale laat praat het. As 21 jarige teen Delicious se harde baarde, ondere andere, Noël en Kevin klaasen, At Seroet, Sinny Hofmeester, Eric Booysen, Leon Wehr, die Julius broers. YGH se span was soos volg. 15. Dobboy de Leeu. 14.Steven DuToit. 13.Morris Titus. 12. Boetie Tacle Willemse. 11. Les Naude. 10. Bernie Damon. 9.Carl Damon 8. Russel February. 7. Desmond Hare van Wyk. 6. Sammy Titus. 5.Frans Snyder's. 4.Dally Wehr. 3.Rashaad Davids. 2. Odette Geldenhuys. 1.Pankies Arries. Die wedstryd was hard en Delicious teken eerste punte aan deur ñ drie te druk. Die doelskop was mis en hulle loop voor 4 nul. N drie het in daardie jare 4 punte getel. YGH slaag met 2 strafskoppe wat die telling bring 6 punte teenoor 4 in YGH se guns.Delicious val verwoed aan en ñ strafskop word aan hulle toegeken. Die bal word deur die pale geskop. Die telling 7 Delicious en 6 vir YGH.Die uurglas is besig om uit te loop vir YGH om die wedstryd te wen. N losgemaal vind op die middelyn plaas en YGH spook om besit van die bal. N strafskop word aan YGH toegeken op die middelyn. Die kaptein vra die skeidsregter hoeveel tyd oor is waarop hy antwoord dat die tyd verstreke is. Die kaptein draai na Bernie en sê hy moet pale toe skop. Bernie wil nie want dit is te vêr. Die leerbal van daardie jare was n swaar bal en wou geskop wees. Die spanning laai op, gaan Bernie die skop waarneem. Die kaptein gee vir Bernie die bal en sê dat dit ons laaste kans is om die wedstryd te wen. Die senuwees knaag en Bernie maak ñ sandhopie en plaas die bal daarop. Die telling is 7 punte teenoor 6 punte in Delicious se guns. Na die skop sal dit die einde van die wedstryd wees. Drama op sy hoogste. Bernie het terug getree en kom vorentoe en tref die bal. Die bal is in die lug, gaan dit die pale haal of gaan dit te kort wees. Die bal kry koers pale toe en die strafskop is oor. Die eindfluitjie blaas en Bernie alias tjokker word skouerhoog van die veld gedra. Die opgewondenheid van die toeskouers was groot en die braai met uitbundige vrolikheid daarna was uit die boonste gestoeltes. Wat n wedstryd en gemoedere hoog onder sommige Delicious aan hangers en van die YGH ondersteuners moes maar lig loop. Eindtelling YGH 9 Delicious 7."

Nurse Annie BrownDaar kon nog nie vasgestel word in watter jaar Nurse Annie Brown Ceres toe gekom het nie, maar sy het h...
10/04/2026

Nurse Annie Brown
Daar kon nog nie vasgestel word in watter jaar Nurse Annie Brown Ceres toe gekom het nie, maar sy het haar opleiding gekry by St Monica’s Kraaminrigting, Kaapstad.
Met haar aankoms op Ceres het sy aanvanklik gewoon by mnr Pieter Frederick Weber, wat interessant genoeg, volgens vertellinge, die eerste drukkery op Ceres gehad het oorkant die ou polisiestasie. Sy het later munisipale behuising bekom in Proteastraat, nie ver van die ou kliiek af nie. Nurse Annie Brown, of Ou Nurse, soos sy alom bekendgestaan het, het nooit getrou nie, maar het Mary Haas op 5jarige ouderdom ingeneem en na haar omgesien, totdat Mary hoërskool toe is na Zonnebloem.
Ou Nurse was beskryf as ‘n baie hardwerkende mens wat toegwyd was tot haar werk. Voordat verpleegpersoneel aangestel is by die ou Kliniek het sy alleen opgetree as kraamsuster. Sy word onthou met haar fiets en bruin tassie agter op die carier wat die hele Rooikamp, Morrisdale area bedien het. Baie vroue het tuis gekraam en word vertel dat Ou Nurse na die geboorte nog die moeder besoek het vir nasorg.
Joyce Pharo onthou Ou Nurse met haar gestyfde “nurses' veil”, wat tot op die skouers gehang het en uniform wat altyd spierwit was (Die “veil” het sy oorsprong in die sluiers van nonne wat vroeër die verpleging behartig het en was 'n simbool van toewyding, diens en professionaliteit). Daar is min inligting beskikbaar oor Nurse Brown en volgens vertellinge was sy ‘n baie privaat mens wat nie graag oor haarself gepraat het nie. Sy was egter baie lief vir tuinmaak. Syt soggens teen 5 uur in die somermaande al in die tuin gewerfskaf. Sy was ook baie lief vir brei en Bubbles vertel hoe sy baie saam met haar gebrei het. Mary vertel dat Nurse Brown haar geleer brei het en dat sy wat Mary is, reeds op 7jarige ouderdom haar eie trui gebrei het.
In ‘n koerant berig oor Nurse Annie, is genoem dat sy in haar leeftyd sowat 4 500 babas gevang het. Sy het ook voor haar dood, die toekenning ontvang as lewenslange ere-lid van die Suid-Afrikaanse Verpleegstersraad vir haar vele jare se getroue diens as kraamverpleegster.
Bubbles Wagener, neé Weber, onthou hoe ou Nurse in haar gevorderde jare nie meer fiets gery het wanneer sy na haar patiente toe gaan nie maar eder haar fiets met die “casey” gestoot het.
Sy het tot op hoë ouderdom gewerk, totdat die munispaliteit haar versoek het om af te tree. Nie lank na haar aftrede is Ou Nurse na ‘n kort siekbed in Groote Schuur hospitaal, op 19 Junie 1975 oorlede. Sy was 77 jaar oud. Haar impak op die gemeenskap was so groot dat die Kliniek in Leyllstraat na haar vernoem is en ken ons dit vandag as die Annie Brown kliniek. Die datum vir die opening van die Annie Brown Kliniek kon nog nie opgespoor word nie, maar in gesprekke blyk dit moe iewers na 1983 gewees het.
Annie was lidmaat van die St Andrews kerk maar omdat die VGK groter ruimte was, is sy uit dié kerk begrawe. Sy is ter ruste gelê in die Anglikaanse begraafplaas, maar ongelukkig bestaan die grafsteen nie meer nie. Sy het ‘n suster gehad wat in Bonteheuwel woonagtig was en ’n broer in Suid-Wes.

Address

8 Oranje Street
Ceres

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Ceres van Gister en Eergister posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Organization

Send a message to Ceres van Gister en Eergister:

Share