07/08/2026
Waar vrees eindig... begin Hoop!
"Hy" het grootgeword in ’n huis waar albei sy ouers dwelm- en alkoholverslaafdes was en waar hy nie veilig was nie. Sy pa was gewelddadig teenoor hom en sy suster.
Hy vertel self:
“Ek het soggens wakker geword en was soms te bang om eers uit my kamer te gaan, maar ek het geen keuse gehad nie, want ek was bekommerd dat hy iets aan my suster sou doen.”
Nadat hy sy suster se kêrel ontmoet het, het hy iemand gevind wat hy kon vertrou. Hy het hom eenkant toe geroep en alles vertel wat aangaan.
“Ek het vir hom gesê dat ek net wou hê my suster moes uit daardie huis kom. Om daaroor te praat, het gevolge gehad, maar ek sou eerder hê dit moes met my gebeur as met my suster.”
Uiteindelik het hy sy tannie gebel nadat sy pa beheer verloor het. Sy het dadelik in haar motor geklim en hom kom haal.
“Ek het toe vir ’n tyd lank by haar gewoon, en dit was die beste besluit wat ek nog ooit geneem het. Want ek was uiteindelik in ’n huis waar ek veilig en geliefd gevoel het.”
Maar toe sy tannie later moes immigreer, het hy weer tussen verskillende versorgingsplekke beweeg totdat hy uiteindelik by ’n mynwerkershostel in ’n myndorpie, beland het.
In April 2024 het die pleeghuis ’n oproep ontvang van Mariana Kriel, streekorganiseerder van Helpende Hand se Pretoria-streek, oor ’n jong seun in nood.
Sy pleegouer vertel:
“Toe ek ry om hom te gaan haal, was hy in ’n mynwerkers-hostel waar hy die inwoners se wasgoed moes was en ander werk moes doen in ruil vir ’n bed en iets om te eet.” Hopeloos.
“Ek het aan die inwoners gesê dat ek sy tannie is en hom kom haal. Met verligting het hy ’n rugsak vol klere en ’n kombers geneem. Ek het toe besef dit was al sy besittings. Hy het sonder vrae by my motor ingeklim.”
Dit is waar sy nuwe begin gekom het – alhoewel nie sonder uitdagings nie.
Geen skool wou hom aanvaar nie. Hy was toe reeds ses maande lank uit die skool. Met die ondersteuning van Helpende Hand kon hy egter weer ’n geleentheid kry om sy opleiding voort te sit. Hy is vir tuisskool ingeskryf, waar hy graad 11 voltooi het, en is tans besig om sy matriekjaar te voltooi en sy toekoms te bou.
Helpende Hand kon hom ondersteun met registrasiefooie, skryfbehoeftes en toiletware – praktiese ondersteuning wat ’n direkte verskil gemaak het in sy pad terug na opleiding en ’n toekoms.
Maar Helpende Hand se ondersteuning stop nie daar nie. Gereelde skenkings van melk en HelpJag-vleis help ook om die pleeggesin te ondersteun wat hom daagliks grootmaak en vir hom ’n veilige en liefdevolle tuiste bied.
Vandag, meer as twee jaar later, is hy steeds in ’n veilige pleegsorghuis. Hy is besig om matriek te voltooi en sy toekoms te bou.
Een kind. Een veilige huis. Een nuwe kans.
Dít is die verskil wat Helpende Hand - Deel van die Solidariteit Beweging elke dag, saam met sy ondersteuners, maak.
Dankie Karmien Buys vir die deel hiervan.
Word 'n vennoot in , kontak [email protected].