05/10/2026
’n Verhaal van herstel, hoop en ’n gesin wat weer bymekaar kom...
Wanneer kinders in pleegsorg geplaas word, is die hoop altyd dat hul biologiese ouers, met die nodige ondersteuning en veranderinge, weer in staat sal wees om na hul kinders om te sien. Alhoewel dit nie altyd moontlik is nie, is elke positiewe stap in dié rigting betekenisvol.
*Kate (17) en *Kevin (16) word reeds van ’n baie jong ouderdom deur hul paterne grootouers versorg en is later ook in hul pleegsorg geplaas. Hul moeder het op daardie stadium met dwelmverslawing geworstel.
Verlede jaar het hul moeder egter self die maatskaplike werker gekontak met die versoek om weer kontak met haar kinders te hê. Sy het op daardie stadium reeds vier jaar lank nie dwelms gebruik nie – ’n belangrike stap in haar pad na herstel.
Aanvanklik was die hernude kontak tussen die kinders en hul moeder nie altyd maklik nie. Met tyd, geduld en ondersteuning het die verhouding egter geleidelik versterk.
Teen die tyd dat die pleegsorgplasing hersien moes word, was die band tussen moeder en kinders reeds so sterk dat hul moeder aangedui het dat sy bereid en gereed is om hulle weer in haar sorg te neem.
Op 7 Augustus 2026 is Kate en Kevin amptelik teruggeplaas in die sorg van hul biologiese moeder.
Hierdie verhaal herinner ons daaraan dat herstel moontlik is, verandering tyd neem, en dat die regte ondersteuning ’n betekenisvolle verskil in die lewe van ’n gesin kan maak.
Dit is waarvoor ons werk – om kinders te beskerm, gesinne te ondersteun en, waar moontlik, te help om gesinne weer veilig te herenig.
Elke stap vorentoe is ’n stap nader aan hoop.
*Nie hul regte name nie, en die foto is slegs ter illustrasie en is nie ’n foto van die betrokke kinders nie.
Help om ’n kind se storie te verander. Een maand op ’n slag: https://badisatygerberg.ad.org.za/f/debit-order-form-18172381