12/03/2026
Dirkie Uys Voortrekkers Gesinskamp
Magaliesberg Jeugkampterrein
6-8 Maart
Net meer as ’n uur buite Pretoria word ons deur die mooiste groen landskap verwelkom. Hier, in die hart van die Magaliesberg se unieke berg-ekosisteem, was oop grasvelde, bosveldbome, inheemse woude, glyklippe en waterpoele ons speelterrein vir die naweek. Baie lag, hope pret, speel-speel leer en nuwe ontdekkings in die natuur was alles op die spyskaart.
Die jongste groep maats het spesiale aktiwiteite geniet: Graad R–1 (Druppels) het nuwe eienskappe van water ontdek, terwyl Graad 2–4 veldkook gedoen en geleer het om plaatkoekies en springmielies op ’n veldstoof te maak. Hulle het selfs hul eie worsbroodjies en roosterkoek oor die kole gaargemaak.
Graad 5–6 het kreatief gewerk deur hul eie bordesakke van denim-materiaal te ontwerp en te maak. Graad 7 het die natuurskoon verken as deel van hul voorbereiding vir Voorslag.
Ons Verkenners het hul vaardighede opgeskerp en ontwikkel tot ware, professionele kettieskieters.
Die naweek het weer gewys hoe kosbaar dit is wanneer gesinne saam tyd in die natuur deurbring.
Baie dankie aan elke ouer, leier en deelnemer wat die naweek moontlik gemaak en ondersteun het. Ons het almal nuwe energie gekry en weer diep asem in die natuur geskep.