15/07/2026
EK IS KWAAD
(Lizeth)
Hierdie brief gaan uit aan ouers wat dit nooit sal lees nie, ek weet dit. Ek MOET net hierdie van my hart af kry.
Liewe Mamma/Pappa
Julle drink en rook julle geldjies wat julle van Werkloosheidsversekering of dit wat julle êrens bedel, uit. Ons magies is leeg. Die komberse wat julle van die Kerk gekry het, is verkoop. Ons staan met skaam, gebuigde koppies en seer ogies elke dag in die "broodjie"ry by die skool. Daar is nou iemand wat ons darem elke dag as ons daar aankom, pap gee, sodat ons net deur die dag kan kom. Ons is vreeslik skaam om die kospakkies wat "Juffrou Broodjies" vir ons uitdeel, huis toe te vat. Ons ry op die skoolbusse, as ons 'n pakkie by ons het, word dit van ons afgeneem, veral as daar iets lekkers in is.
Ons kry waspoeier, sjampoe, seep, tandepasta en -borsels, partykeer darem selfs 'deodorant'. As ons dit nie wegsteek in ons tasse nie, of DIE van ons wat dalk 'n sportsak het nie, word dit weggeneem voor ons by die huis uitkom.En die ergste is, as ons dit wel by die huis kry, staan die waspoeier maar net daar, of word ook verkoop vir geld vir julle Gewoontes. Party van ons is nog baie klein, ons weet nog nie mooi van higïene nie, want ons is dit nooit geleer nie. Ons kry luise, die skool koop ten duurste spesiale sjampoe aan, met 'n briefie daarby dat julle tog ASSEBLIEF die beddegoed ook moet ontsmet, met dit wat die Skool/ Kerk aanstuur.
DAN stuur julle 'n briefie vir ons klasonderwysers wat sê: "JOU ....!". En oor 'n paar weke het ons WEER luise, ons klere is STEEDS nie gewas nie, daar was nie water om te bad of te was nie, ons stink en word deur ons klasmaats as uitgeworpenes behandel.
ONS IS KINDERS!
Ons het nie gevra om hier te wees nie, ons is nog klein, JULLE het ons in hierdie Wêreld ingebring. Hoekom? Sodat julle ons kan verwaarloos en aan ons eie genade oorlaat? Omdat julle SELFSUGTIG is en nie Verantwoordelikheid kan aanvaar nie?
Watter voorbeeld stel julle vir ons? WAT dink julle is ons toekoms? Ons leer deur julle voorbeeld. Ons kry skaam om in 'n vakansie, wanneer ons nie kospakkies kry nie, skelm in die asblikke rond te krap om die honger te stil.
Van my maats het al begin om saam met "Ooms" te gaan om geld te kry vir kos. Van my maats se Huiswerkers (O, DIé kan julle betaal), het al vir ons kos gebring.
Ander van hulle betaal die Huiswerkers om vir hulle Skokiaan en enige ander Tuisgemaakte drank te bring, Zolle te rol.
Ons broers en susters in die sekondêre skool verkoop al dwelms om geld huis toe te bring, meeste van hulle is nou ook verslaaf, so dis waarvoor die geld gaan.
Ons sien wat julle doen, ons gaan julle voorbeeld volg, want ons sien geen uitkoms nie.
Op hierdie stadium is ons nog trots, ons sou graag beter wou doen op skool, maar julle betaal nie die busgeld nie en die skool kan net SOVEEL doen. Julle kry skielik die geld van êrens vandaan as julle weet dis tyd vir Kospakkies.
Is dit snaaks dat julle ons uitskel vir "Losers", ons YS as ons moet huis toe gaan, ons onttrek van ons klasmaats?
Liewe Mamma/Pappa, ONS IS NOG STEEDS SO LIEF VIR JULLE, julle is ons gesin, julle is al wat ons ken.
Kan julle nie maar ook vir ONS Lief wees nie???
Jou Kinders