15/09/2026
Dit is waarom wij als stichting de school en het kinderhuis in Friersdale ondersteunen: om de kinderen een betere toekomst te geven!
’n Kind uit Friersdale kan groot droom. En ja… daardie droom kan waar word. ❤️🎓
In 2020 het ek die groot stap geneem en my voete op die Potchefstroomkampus van North-West University gesit om ’n BA-graad in Sielkunde en Toerismebestuur te studeer.
Ek was een van die eerste leerders van G/S Friersdale wat die geleentheid gekry het om universiteit toe te gaan.
Vir my was dit soveel meer as net die begin van ’n nuwe hoofstuk. Dit was die begin van ’n droom wat ek lankal in my hart gedra het.
Toe ek by die universiteit aankom, het ek ontdek dat G/S Friersdale se naam nie eens op die universiteit se sisteem was nie.
Vandag kyk ek terug en besef ek watter besondere voorreg dit was om, al was dit net op my klein manier, te kon help om my skool se naam op daardie universiteits-“map” te plaas.
Ek was trots.
Nie omdat ek gevoel het ek het iets buitengewoons gedoen nie, maar omdat ek kon wys:
Daar is kinders uit klein gemeenskappe met groot drome.
En hulle kan dit bereik.
Maar ek sal nooit vergeet waar ek vandaan kom nie — en nog minder sal ek vergeet wie my gehelp het om daar uit te kom.
My skool het vir my my eerste skootrekenaar gekoop. Vir iemand anders mag dit dalk net ’n laptop gewees het. Vir my was dit ’n geleentheid. ’n Hulpmiddel. En, nog belangriker, ’n tasbare herinnering dat mense in my geglo het.
My beursjare was ook nie altyd maklik nie. Daar was tye wat betalings nie betyds uitgekom het nie en ek nie geweet het hoe ek die volgende dag sou aanpak nie.
In een van daardie moeilike tye het mnr. Eiman vir my R1 500 gestuur omdat ek so goed in sy vak presteer het.
Maar vandag verstaan ek dat dit nooit net oor die R1 500 gegaan het nie.
Dit was die boodskap daaragter:
“Ek sien jou.
Ek glo in jou.
Moenie opgee nie.”
Daar was dae wat ek wou tou opgooi.
Dae wat ek gewonder het of ek regtig slim genoeg is.
Dae wat ek gevoel het dat universiteit dalk net nie vir iemand soos ek bedoel is nie.
Maar dan sou my ma my saans bel en sê:
“Ek het vir mnr. De Klerk gekry. Hy is so trots op jou.”
Of:
“Mnr. Eiman het my vertel hoe hy by die leerders oor jou spog.”
En wanneer ek gedurende die vakansies vir mnr. Isaacs raakgeloop het, het hy altyd ’n manier gehad om my weer te motiveer, te bemoedig en my te herinner dat ek tot méér in staat is as wat ek soms self geglo het.
Daardie woorde het my gedra op dae wanneer ek self nie meer in myself geglo het nie.
Friersdale was nog altyd my motivering.
Ek wou suksesvol wees sodat die kinders van Friersdale kon sien dat jou omstandighede nie jou toekoms hoef te bepaal nie.
Ek wou hê hulle moes weet dat jy verder kan kyk as die plek waar jy vandaan kom.
Dat jy mag droom.
Dat jy mag probeer.
Dat jy mag misluk, weer opstaan en weer probeer.
En bowenal:
Dat jy dit kan maak.
Ek glo vandag nog dat universiteit nie net vir die “slimste” kinders is nie.
Dit is ook vir die kind wat bereid is om hard te werk.
Vir die kind wat aanhou wanneer dinge moeilik raak.
Vir die kind wat met twyfel in sy hart steeds kies om nog een dag te probeer.
Want soms is die verskil tussen opgee en aanhou eenvoudig net iemand wat vir jou sê:
“Ek glo in jou.”
Vandag is ek besig om my onderwyskwalifikasie te voltooi.
En my doel is groter as om bloot ’n onderwyser te wees.
Ek wil ’n verskil maak.
Ek wil die onderwyser wees wat vir ’n kind sê:
“Ek glo in jou.”