13/09/2026
🌸 MET ’N DANKBARE HART – WAT ’N ONGELOOFLIKE OGGEND! 🌸
Ons harte loop oor van dankbaarheid wanneer ons terugkyk na die absolute sukses van ons Wake Up Sunshine Foundation Blommeoggend saam met Lynette B**r. 🌷
Wat ’n voorreg was dit om ’n vertrek vol ongelooflike vroue bymekaar te sien – vroue wat gelag het, geluister het, saam gekuier het en vir ’n paar kosbare ure net weer kon besef hoe besonders dit is om vrou te wees.
En toe kom Lynette B**r… ❤️
Van die oomblik wat Lynette begin praat het, het sy elke vrou in die vertrek vasgevang. Haar ongelooflike energie, humor, wysheid en inspirasie het die vertrek gevul. Sy het ons laat lag, laat dink, diep laat voel en ons opnuut geïnspireer.
Die “Maria-oomblik” was vir my persoonlik absoluut besonders. Om net daar te kon sit, stil te word en na Lynette te luister – om nie rond te hardloop of iets te probeer reël nie, maar net die oomblik in te neem – was absoluut awesome. Dit was een van daardie oomblikke wat ’n mens diep in jou hart bêre. 🌸
🎶 En dan ons besondere Chantelle Bosch van Luister FM…
Chantelle, baie dankie vir jou pragtige stem en vir dit wat jy tot ons oggend bygedra het. ❤️
Jou sang het iets besonders na die geleentheid gebring. Jou stem het die atmosfeer gevul en die boodskap van die dag op ’n manier gedra wat net musiek kan. Jy het nie bloot vir ons gesing nie – jy het met jou talent en jou hart deel geword van die mooi van hierdie dag.
Dankie dat jy bereid was om jou gawe met Wake Up Sunshine Foundation en elke vrou daar te deel. Ons waardeer jou opreg en is dankbaar dat jy deel van hierdie besonderse oggend was. 🎤🌻
Lynette, baie, baie dankie dat jy jou tyd, jou hart en jou besondere gawe met ons gedeel het. Jy het nie net ’n praatjie gelewer nie – jy het iets in mense se harte agtergelaat. Ons sal hierdie oggend nog lank onthou.
Aan ons ongelooflike gasvroue: dankie! Julle het kaartjies verkoop, verversings voorsien en met soveel liefde gehelp om hierdie oggend moontlik te maak. Julle was ’n onmisbare deel van die sukses van hierdie dag. 🌷
Aan ons borge – elke onderneming en persoon wat bereid was om in ons visie te glo en ons te ondersteun – baie, baie dankie. Julle ondersteuning help Wake Up Sunshine Foundation om voort te gaan met dit waarvoor ons geskep is: om hoop te herstel en lewens te herbou.
En aan elke vrou wat ’n kaartjie gekoop en saam met ons gekuier het: dankie dat julle opgedaag het, saam gelag het, saam gevoel het en ons ondersteun het. Julle het hierdie oggend gemaak wat dit was.
Wanneer ek terugkyk na die vertrek vol vroue, die lag, die musiek, die emosie, die energie, die vriendskap en die liefde, kan ek net sê:
Vader, dankie. 🙏🏻
Dankie vir ’n droom wat werklikheid geword het.
Dankie vir Lynette.
Dankie vir Chantelle.
Dankie vir ons gasvroue.
Dankie vir ons borge.
Dankie vir elke vrou wat daar was.
En dankie vir ’n absolute asemrowende, suksesvolle Blommeoggend wat ons nooit sal vergeet nie. 🌸🌻❤️
Wake Up Sunshine Foundation
Restoring Hope • Rebuilding Lives
Met ’n baie dankbare hart.