11/06/2026
Slag van Donkerhoek (11–12 Junie 1900)
Ná die Britse besetting van Pretoria het baie mense geglo dat die oorlog feitlik verby was. Die Boere se kosvoorrade was min, en hul klere was vodde. Hul perde was moeg en siek. Dit was winter op die Hoëveld, en dus baie droog, en daar was min weiding. Die regering was bankrot. Baie burgers het die wapen neergelê of bloot geweier om verder te veg.. Tog was daar steeds burgers wat vasbeslote was om aan te hou veg.
Op 11 Junie 1900 het Britse magte teen die Boerelinies by Donkerhoek en Diamond Hill opgeruk. Weens gebrekkige verkenning het hulle die omvang van die Boere se stellings onderskat en reguit in sterk verdedigde posisies vasgeloop.
In die noorde het generaal Koos de la Rey se burgers Britse aanvalle met akkurate geweer- en kanonvuur afgeweer. In die suide het generaal Tobias Smuts se manne die Britse opmars tot stilstand gebring nadat hulle vanuit nuwe stellings by Boschkop swaar vuur oopgetrek het. Teen die aand was geen kant in staat om 'n deurbraak te behaal nie.
Die volgende dag het lord Roberts sy hoofaanval op Donkerhoek toegespits. Ná ure se hewige gevegte en gekonsentreerde artillerievuur het die Britte daarin geslaag om die hoogte te verower. Intussen het De la Rey in die noorde die oorhand gekry, maar versterkings wat hy benodig het, moes elders aangewend word.
Generaal Louis Botha het besef dat die Boere nie nóg 'n groot verlies kon bekostig nie. Hoewel hulle nie verslaan was nie, het hy beveel dat die burgers gedurende die nag ordelik terugval en ooswaarts beweeg om die stryd voort te sit.
Die Slag van Donkerhoek was een van die laaste groot veldslae van die oorlog en het bewys dat die Boeremagte steeds in staat was om sterk weerstand teen die Britse leër te bied.
Die Orania Bewaringstigting bewaar die herinnering aan hierdie en ander belangrike geskiedkundige gebeurtenisse sodat toekomstige geslagte die opofferings, volharding en geskiedenis van hul voorgeslagte kan bly onthou.