14/08/2026
Augustus is VROUEMAAND!
Wat en wie het ons VLU Mpumalanga Presidente, Alna Kapp, gevorm as leier?
Alna skryf vir ons:
In my grootword jare was my Ma en Ouma vir seker die rolmodelle wat my karakter help vorm het. Ek sou graag wou glo dat hulle beste eienskappe ook in my vasgelê is. My ma se kalmte deur selfs die moeilikste omstandighede, het my altyd veilig laat voel.
My Ouma se gunsteling sêding was: "Kannie is dood". So het ek my kinders geleer en vandag leer ek my kleinkinders jy kán, glo in jouself.
My skoonma was vir my 'n rolmodel oor die manier waarop sy my, as jong vrou en ma, met baie liefde leiding en raad gegee het. Sy het my ook aan die VLU bekend gestel. Haar spens was 'n absolute uitstalvenster van haar gebak- en preserveervernuf.
Daar is baie VLU-dames wat ek oor die jare beskou het as rolmodelle. Wat my diep onder die indruk gelaat het van hoe die beeld van 'n VLU-vrou lyk. Die eienskappe van só 'n vrou word so mooi saamgevat in die mooi gebed van Mary Steward waarmee ons vergaderings open. Mag ons aanhou strewe om die vrou te wees wat ons organisasie se naam hooghou.