Lettie se Lappieskomberse

Lettie se Lappieskomberse Op hierdie blad kan u kennis maak met Lettie Mokhondwani en die mooi lappieskomberse wat sy maak. U kan ook van die komberse hier bestel. wou hy weet.

Lettie is 47 jaar oud en sy het tot onlangs op Ventersdorp – dáárdie dorp, ja - in die ou Wes-Transvaal gewoon. Deesdae woon sy by Dana Snyman op Jacobsbaai aan die Weskus, saam met haar man Johannes (55) en haar seun, Koos (15). Johannes het vir meer as tien jaar by Dana se pa op Ventersdorp gewerk. Ná Dana se pa se dood het Johannes-hulle afgetrek Jacobsbaai toe, na Dana toe. Maar op Jacobsbaai

was nie vir Lettie werk nie. Onlangs het Dana onthou hoe Lettie lank gelede vir sy oorlede pa ‘n lappieskombers as geskenk geneem het. Kan sy nie weer só ‘n kombers maak nie? Dit was darem iets vir haar om te doen. Dit kon dalk ‘n geldjie inbring. Lettie het aan die werk gespring. Sy het as ‘n jong meisie by haar ma geleer hoe om 'n lappieskombers te maak. Die komberse het die koue help weghou wat in die winter wit om hul huisie in die township kom hang het. Op Dinsdag, 7 Augustus, was Lettie klaar met die kombers waarvoor Dana gevra het. Dieselfde dag het hy ’n foto van haar en die kombers geneem en dit hier op Facebook geplaas, in die hoop dat iemand dalk die kombers wil koop, dalk, dalk. En toe gebeur Lettie se Lappieskomberse! Die reaksie was oorweldigend, en nou het Lettie haar eie Facebook-blad. Welkom hier! Die doel van dié blad is tweeledig. Eerstens: Dit moet dit maklik maak vir u om komberse hier te bestel. Omdat alles half per ongeluk gebeur het, gaan dit ‘n ruk neem om die bestellings glad te laat loop. Wees maar geduldig met ons. Ons beleid is wel: Eers ná u kombers voltooi is, hoef u te betaal. Hierdie is dus nie ‘n piramiede-skema nie. U sal ‘n lys met name op die blad vind van almal wat reeds komberse bestel het. Ons sê ook hoe groot die komberse is, en wat dit kos, ens. Maar hierdie is nie net ‘n virtuele winkel nie. Dis ook ‘n storieplek. Ons (ook u wat nou hier lees) leef saam met Lettie aan hierdie storie, nóú, hier in wankelrige Suid-Afrika, in die jaar 2012. Ons gaan gereeld vertel wat in Lettie se kombersfabriekie in Dana se motorhuis gebeur. Ons gaan ook die ander mense voorstel wat reeds vir Lettie met die komberse help of haar wil help. Ons droom klein: Lettie wil nie ‘n kombersmagnaat word nie. Eers wil ons net ‘n goeie inkomste vir haar en haar gesin verseker. Koos is verstandelik gestremd en het spesiale onderrig nodig. U is welkom om voorstelle op die blad te plaas oor hoe u d**k ons goed kan verbeter. Ons is almal so half saam in hierdie kombers-ding. Dankie vir u bydrae tot dusver. Ons waardeer dit opreg.

Address

Jacobsbaai
Jacobsbaai

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Lettie se Lappieskomberse posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Share