14/01/2026
KRAG VIR DIE WAT MOEG IS
"Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie." (Jes. 40:29)
Hier word gepraat van dié wat moeg is, wat geen krag het nie. Hoe neerdrukkend is dit nie om moeg te wees nie. As swakheid ons oorweldig, blus dit al ons moed uit! Ons kan dan nie werk nie en is nie in staat om te stry nie. Alle lewenslus is weg. Ons medemens rig dan ook nie veel met ons uit nie. Wat kan daar tog uitgerig word met 'n mens wat moeg is? Waarvoor kan die ongelukkige wat geen krag het nie gebruik word? Dis geen wonder dat ons medemens min in ons belangstel wanneer dit só met ons gesteld is nie.
En die Here? Hier lees ons dat Hy anders teenoor die ongelukkiges staan. Hy gee krag aan dié wat moeg is. Laat ons stilsit en hieroor peins. Die Here stel belang in dié wat niks beteken nie – dié wat moeg is en geen krag het nie. Dit word orals in die Skrif gesê. "Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie." (Jes. 42:3) En van onse Here Jesus leer ons dat Hy vir ons gesterwe het toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8). Laat ons ons gedagte daarop vestig dat God die ellendiges gadeslaan en ag gee op dié wat moeg is. Op dié groot feit moet ons ons gedagtes vestig!
As dit so is, dan moet ons dit vir ons toeëien. Ons moet in geloof sê: Die Here gee aan my wat moeg is krag. Hy gee aan my wat magteloos is sterkte. As ons dit doen, sal ons afgematheid wyk, en krag sal die plek van swakheid inneem.