08/05/2026
Die pen van Arthur Fula (8 Mei 1908 - 17 Mei 1966)* Leana Lategan vertel:
WAAROM WEET ONS SO MIN OOR DIE EERSTE SWART MAN WAT ’N ROMAN IN AFRIKAANS GEPUBLISEER HET?
UIT: Taalgenoot Lente 2018, pp.18-19.*
"In die goue dekade van Afrikaans, tussen 1948 en 1959, dié tyd wat later eufories as “die wonder van Afrikaans” bekend sou staan, werk daar ’n 46-jarige Xhosa as tolk in die Johannesburgse magistraatshof van J.A.B. van Zyl Visser. Dís waar die verslaggewer van “The Star” op 15 Januarie 1954 steeltydjies moet inpas om met Arthur Nuthall Fula ’n onderhoud oor sy eerstelingroman, “Jôhannie giet die beeld”, te voer.
Hoewel Arthur Fula tot in daardie stadium reeds sy hand aan skryfwerk in Engels gewaag het, kon hy nie ’n uitgewer daarvoor kry nie. Nou, eensklaps, is hy ’n literêre sensasie, en sy roman ’n opspraakwekkende debuut. Die Afrikaanse Pers Boekhandel word (tereg, vir 1954) daarvoor aangeprys dat hulle “ ’n mylpaal geplant het wat moontlik die verhouding tussen Afrikaners en die Bantoe in die toekoms sal beïnvloed” (koerantberig, ongeïndekseer).
Hulle druk ’n aanvanklike oplaag van 5000 boeke, en kort daarna weer 3000, groot getalle vir ’n klein mark. Ongeag hiervan ervaar Fula egter reeds die byt van boeke wat nie na wense verkoop nie. Hy merk in ’n brief aan ’n leeskringlid op dat hy hom “kan vergelyk met ’n perd wat gekniehalter is wat ’n swaar gelaaide wa oor ’n opdraant moet trek, deur die gebrek aan geld wat ek aan ly ...”
Tog het dit hom nie ontmoedig nie, want hy het juis met bepaalde doelwitte voor oë sy skryfwerk aangepak. ’n Xhosa-spreekwoord was ’n verdere aanmoediging: “Hoe diep die rivier is, word gewoonlik getoets deur die wandelstok.” En Fula se “diep rivier” was waters wat hy eintlik lewenslank moes bly toets.
Moeilike skryfwaters
Hy is op 16 Mei 1908 in Oos-Londen gebore. In 1910 verhuis sy ouers na die Rand, en ná kort omswerwinge vestig hulle hul in George Goch, naby Germiston. In hierdie woongebied (genoem na ’n voormalige burgemeester) kom die jong Arthur met ’n sterk bruin en Afrikaanssprekende gemeenskap in aanraking. Hy woon die Siemert School for Coloureds by, en voltooi sy Vorm 1V-eksamen. Daarna studeer hy verder in die onderwys aan die Eurafrican Normal College, maar moet weens finansiële stremming hierdie studie laat vaar.
In 1925 begin hy as ’n klerk in die hospitaal van die Wolhuter-goudmyn werk, en later ook as mynwerker. Omdat hy nie van hierdie werk hou nie, begewe hy hom as leerjonge in die bedryf van meubelmakers, en hier vind hy vir ’n tydperk van 15 jaar ’n holte vir die voet. Dié besigheid gaan egter onder, en Fula besluit om sy eie onderneming te begin. Nié met goeie gevolg nie. Omdat hy ’n opregte meegevoel met, en deernis vir sy medemens het, en waarskynlik ook nou al ouer en wyser is, besluit hy om ’n kursus in tuisverpleging, eerstehulp en die voorkoming van ongelukke deur die St. John-organisasie te doen. Wanneer ’n mens sy roman “Met erbarming, o Here” lees, is die beeld van die skrywer se menslike ingesteldheid trouens nooit ver van jou leeservaring nie. Later jare begin hy as tolk in die magistraatshof gewerk.
Soos in sy beroepslewe het hy ook in sy skryfwaters dieptes leer ken. Hoewel hy as taalvaardige buitengewoon talentvol was, en nie minder nie as agt tale met gemak kon bemeester, was die kreatiewe werklikheid nie noodwendig maanskyn en rose nie. Afgesien van Xhosa en Afrikaans, wat hy op moedertaalvlak kon gebruik, was hy ook vaardig in Engels, Zoeloe, Sotho, Tswana en Pedi, en het hy deur Alliance Française Frans aangeleer.
Terwyl hy besig was met “Jôhannie giet die beeld” het sy eie mense hom ontmoedig om daarmee vol te hou. Hy vertel self: “My oor is doof op daardie tyd teenoor sulke praatjies gewees. Ek het met my werk gevorder. Die reaksie van die pers is toe gunstig gewees op my werk.”
Maar van “hoër op het ’n sware reënbui losgebars ... en die vloed water daarvan, ’n deurmekaar spul van goedere, sleg en goed, as ook geraamtes (het) bo op my neer(ge) spoel, na daardie boekwerk verskyn het ... Sommige het my baie sleg beledig, asook het andere my met persoonlike geweld gedreig”. Maar Fula het ten diepste ’n besluit oor sy skrywerskap geneem. Hy skryf: “... gedurende daardie vertroebelde periode in my lewe het ek baie dinge geleer. Ek het my getroos deur te redeneer. Ja, hulle het die geld, maar ek besit die pen, en in die pen lê my bestemming. Ek sal win.”
Huldigingsfees
Die digter en bibliografies-nuuskierige Barend Toerien het in “Vrye Weekblad” (30 Maart 1990) ’n bydrae oor Fula en Paul Roubaix geskryf waarin hy navorsers uitdaag om spoor te sny; die akademies hoog aangeskrewe prof. Hein Willemse het reeds baanbrekerswerk oor Arthur Fula gedoen. Uit navorsing wat deur die Switserse bibliotekaris en Africanaversamelaar Peter Sulzer (1917-2009) gedoen is, weet ons dat Fula se werk in Duits vertaal en verwerk is. Maar daar bestaan ook Fula-tekste in Fins, Russies, Zoeloe, en natuurlik Engels.
In die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein is daar op 14 Mei 2016 ’n huldigingsfees ter ere van hierdie skrywer gehou. Daar is ’n borsbeeld van hom onthul (deur die beeldhouer Pieter Faure Lategan), en ’n uitstalling is ingerig. Prof. Hein Willemse (foto links bo) het sy unieke bydrae tot die Afrikaanse letterkunde in perspektief geplaas.
Weet ons, die leser, nou, ’n raps meer as 50 jaar ná sy dood op 16 Mei 1966, veel meer van hierdie ietwat misterieuse Xhosaskrywer? Die tolk wat gedurende etenstye op sy siter sit en speel, en deuntjies sing wat hy self gekomponeer het, verlang-stories na sy mense wat ver is?
Boeke deur die skrywer Arthur Fula, manuskripmateriaal en verskeie ander dokumente wat met sy skryfwerk verband hou, foto’s en tydskrif- en koerantartikels wat geraadpleeg is om hierdie artikel saam te stel, is alles deel van die unieke skrywersversameling in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum wat op 24 Maart 1973 in Bloemfontein tot stand gekom het. Die artikel word geborg deur die Vriende van NALN, ’n hulpgroep wat die werksaamhede van die museum op aktiewe en daadwerklike wyse ondersteun. Enige navrae om aan te sluit by die Vriende van NALN, of om ’n finansiële bydrae te maak, kan gerig word aan Annelien Diedericks: [email protected]."
*Die Orde van Ikhamanga (brons) is postuum aan Arthur Fula (8 Mei 1908 - 17 Mei 1966) toegeken op 17 April 2017, en deur sy kleinseun Don Fula in ontvangs geneem (Die geboorte- en sterfdatums van Arthur Fula is deur Don Fula bevestig.):
"His excellent contribution to the field of literature and challenging stereotypes by writing in a third language, Afrikaans. His vivid imagination has inspired many readers and broadened the knowledge of our country."
http://www.thepresidency.gov.za/national-orders/recipient/mr-arthur-nuthall-fula-posthumous
Ons eer graag die waardevolle insette van ons pionierskrywers, ter herdenking van Afrikaans se verwerwing van amptelike status naas Engels en Hollands, op 8 Mei 1925.
***UIT: Taalgenoot Lente 2018, pp.18-19.https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/NALN-Arthur-Fula.pdf
Kontak die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN): [email protected] of [email protected]
Grafika: My City Bloemfontein