Die beoogde praktiese gebruik van die ou skool- en skakelhuiseiendom (koshuis), soos gesien deur die eienaars van Zomerlust-gastehuis en die Eugène Marais Stigting, het geen botsing opgelewer nie. Die eienaars sou die skoolgebou as administratiewe kantoor gebruik en het beoog om die skakelhuis as twee selfsorgeenhede in te rig. Nou bring die moontlike Eugène Marais-gebruik van die ou skool en skak
elhuis ’n meer waardevolle ontsluitingsmoontlikheid vir die eienaars, die Paarl en Suid-Afrika na vore. ’n Tussentydse taakspan is gevorm om die saak van die Eugène Marais Stigting te bevorder. Die lede was:
i. Minette du Toit, trustee van die Du Toit Familie Trust
ii. Elsa Olivier van die Vriende van Afrikaans
iii. Babs Truter, bibliotekaresse van die HJS
iv. Mnr. Heini Kotzé, “Eienaar van die Konsep”
v. Jan Vermaak, letterkundige en Eugène Marais-kenner
vi. Johann Marais van Johann Marais en Genote, prokureur en oud-skolier van die HJS
vii. Dr. Niël du Toit, genomineer deur die Du Toit Familie Trust
viii. Zane Meyer van Faure en Faure Prokureurs (voorheen voorsitter van die HJS-beheerraad)
ix. Gerrie Strydom van Boshoff Visser Rekenmeesters
Op die vergadering op 1 Maart 2010 het die Du Toit Familie Trust by monde van mev. Minette
du Toit bevestig dat hulle graag met die Stigting wil saamwerk en dat ‘n verkoopsooreenkoms
gesluit sal word. Derek Swart, skoolhoof van die HJS, is by hierdie vergadering behoorlik
ingelig oor die stand van sake. Op ’n vergadering op 22 November 2010 is die saak van die Stigting aan ’n volle
vergadering van die HJS-beheerraad en die HJS se Oudstudente-unie gestel. Samewerking is
aanvaar en die voorsitter van die beheerraad, mnr. Zane Meyer van Faure en Faure is as lid van
die taakgroep gekoöpteer. Meyer sal die Stigting adviseer oor regsake.
'n Voorlopige sakeplan is opgestel en 'n direksie is vroeg in 2013 gekies. Die stigterslede is almal beskikbaar as raadgewende lede met Faure en Faure die Stigting se prokureurs en Boshoff Visser Rekenmeesters die Stigting se ouditeurs. Die direkteure, wat in Junie 2013 gekies is, is dr. Niël du Toit (voorsitter), Heini Kotzé en prof. Johann Lodewyk Marais, digter en navorser en dosent van die Universiteit van Pretoria.